Hiermee nog ‘n aflewering in ‘n reeks deur ‘n Noord-Kapenaar oor die lewe saam met ‘n narsistiese ma. Lees vorige aflewerings hier.
Dit is ‘n paar dae voor die openingsgeleentheid van die 2010-wêreldbekersokkertoernooi.
‘n Week vantevore is my pa met ‘n baie aggressiewe kanker gediagnoseer. Ons besluit om te gaan kyk hoe dit met hom gaan.
Ek en my man beleef albei ‘n druk tyd by die werk, maar kry darem twee dae verlof om die meer as 800km na my ouers toe aan te durf. In die geharwar maak ek vinnig toebroodjies vir die pad. Ons sal nie iewers kan stop om te eet nie. Soos dit is gaan ons eers diepdonker ons bestemming bereik.
Ek skrik toe ek my pa sien. Hy lyk tien jaar ouer as toe ek hom ‘n paar maande vantevore gesien het. Ons pak die bagasie uit die motor en sit die koelsak in die kombuis neer. Ek sit die oorblywende padkos, vier toebroodjies, in die yskas.
Dit is ‘n moeilike naweek.
Ons probeer kuier, maar dit verloop nie vlot nie. Hy is die eerste persoon in ons familie wat met kanker gediagnoseer is en dit is vir almal ‘n groot skok. Ek probeer soveel tyd moontlik saam met hom deurbring en moed inpraat.
Die langnaweek is te vinnig verby. Sondagoggend vieruur pak ons die bagasie in die motor om die lang pad huis toe aan te durf. Ek het vir ons botteltjies koeldrank en lekkers gekoop. My ma het aangebied om vir ons padkos in te pak.
Teen sonsopkoms vra my man of daar iets is om aan te knibbel. Albei die kinders is vas aan die slaap op die agterste sitplek. Ek leun agtertoe en trek die koelsak nader en maak dit oop.
Behalwe vir die koeldrank in die koelsak, lê die broodjies wat ek vier dae gelede in hul yskas gesit het verwese in ‘n wit papiersakkie.
Ek vou die papiersakkie weer toe en sit dit terug in die koelsak.
Ek hoor my hartklop in my ore.
My man maak ‘n opmerking dat ek bleek lyk en vra of hy moet stop. Ek skud woordeloos my kop.
Narsiste wys hul slagoffers hulle is in beheer. Hulle sal jou wys hulle is ongelukkig. Jou optrede word nie geduld nie. Hierdie boodskap word hard en duidelik oorgedra.
Ek wil die broodjies by die venster uitgooi. Ek wil terugry en vra wat ons met vier-dae-oue broodjies moet maak.
Ek maak die koelsak toe en sit dit terug op die agterste sitplek.
“Daar was iewers ‘n misverstand,” sê ek skaars hoorbaar.
“Sal jy op die volgende dorp stilhou dat ons iets kan koop om te eet?”
Die onsigbare dekmantel wat oor emosionele mishandeling hang, veroorsaak dat slagoffers nie herken of gehelp word nie. Jy moet self probeer oorleef.
Ek skryf oor hierdie littekens wat ek in my hart ronddra om ‘n fisieke bewys te hê van ‘n lewe wat ek nie wou leef nie.
As dit iemand kan help om uit die wurggreep van narsisme weg te breek, soveel beter.


