Springbokram van R3miljoen
Die springbokram is vir R3 miljoen op ‘n veiling verkoop. FOTO: Summit Wildlife

Springbokram van Noord-Kaap behaal stewige R3 miljoen op wildsveiling


GRAAFF-REINET – ’n Springbokram van die Noord-Kaap met ‘n uitsonderlike horinglengte van 21 duim (nagenoeg 53 cm) het onlangs ‘n rekord-veilingsprys van R3 miljoen behaal.

Dié springbokram is op 26 September tydens die 11de Summit Wildlife-veiling by die Drostdy Hotel in Graaff-Reinet opgeveil, met Brandon Leer as afslaer. Gesogte teelmateriaal van oor die land heen is op die veiling te koop aangebied met uitstaande pryse wat ook vir ‘n swartwitpensbul en ‘n koningswildebees behaal is.

Volgens bronne is dié springbokram se horinglengte (wat op 20 Julie vanjaar gemeet is) sowat sewe duim langer as die gemiddelde maatstaf van 14 duim.

Springbokram vir R3 miljoen
Die springbokram wat vir R3 miljoen op ‘n veiling verkoop is. FOTO: Summit Wildlife

Dié springbokram, met ‘n wit oorplaatjie met die nommer een daarop, is ongeveer drie jaar oud en is van Jules of the Karoo tussen De Aar en Richmond afkomstig. Jules of the Karoo is internasionaal as ‘n toonaangewende teel- en bewaringsprojek vir springbokke bekend, en is daarop gefokus om die diere na hul robuuste, oorspronklike genetika en groot afmetings terug te bring.

Oortref verwagtinge

Summit Wildlife sê die lewendige veiling op die dag het talle lotte opgelewer wat alle verwagtinge oortref het.

Die swartwitpensbul is vir R2,9 miljoen verkoop
Die swartwitpensbul is vir R2,9 miljoen verkoop. FOTO: Summit Wildlife

Nog ‘n topprys wat behaal is, is R2,9 miljoen vir ‘n swartwitpensbul, Showtime, wat ‘n horinglengte van 56 duim (nagenoeg 142cm) het. Hy is van Valley Venture-stoetery van Vryburg afkomstig en was tydens die veiling sewe jaar en agt maande oud. Sy horings is twee maande voor die veiling gemeet.

‘n Koningswildebeesbul, genaamd Beast, het ‘n topprys van R2 miljoen behaal. Hy is van Quaggasfontein Safari naby Colesberg. ‘n Koning-wildebees is ‘n seldsame kleurvariant van die gewone blouwildebees en kom hoofsaaklik in Suid-Afrika voor. Beast is vyf jaar en nege maande oud en word as gehard en aanpasbaar beskryf.

Beast, die koningswildebeesbul, is vir R2 miljoen verkoop.
Beast, die koningswildebeesbul, is vir R2 miljoen verkoop. FOTO: Summit Wildlife

‘n Vierjarige gemsbokbul, ook van Jules of the Karoo, is vir R1,3 miljoen verkoop. Sy horings se lengte is gemiddeld 119 cm, met die linkerhoring effens langer.

  • Volgens bronne is die duurste springbokram wat nog in Suid-Afrika verkoop is, ‘n ram genaamd Matador wat in Augustus 2025 vir R3,45 miljoen verkoop is. Sy horings was met verkope ook nagenoeg 21 duim lank. Hy is nie op ‘n veiling verkoop nie.

LEES OOK: Rhino cow and calf killed in Kariega poaching attack

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article