Die begrafnisdiens van gesiene volstruisboer Saag Jonker Maandag gehou.
Die begrafnisdiens van gesiene volstruisboer Saag Jonker Maandag gehou.

Huldeblyke stroom ná dood van invloedryke volstruisboer


OUDTSHOORN – Die afskeidsdiens van die bekende volstruisboer en sakeman van Oudsthoorn wat in ‘n fratsongeluk in die Olifantsrivier verdrink het, Saag Jonker (85) vind Maandag 5 Oktober plaas.

Intussen stroom huldeblyke in om eer te bring aan ‘n bekende van die Oudtshoorn-gemeenskap.

Lees ook: Liggaam van volstruisboer van Oudtshoorn in rivier gevind.

In ‘n boodskap op Faceboek skryf lede van die Oudtshoorn-rugbyklub oom Saag was ‘n ware legende van die gemeenskap. “Net drie weke gelede het Oom Saag nog vir ons ’n video gestuur om ons sterkte toe te wens voor die finaal. Min het ons geweet dat dit een van die laaste boodskappe van Oom Saag aan ons sou wees.”

Aan sy familie sê klublede: “Mag die mooi herinneringe aan Oom Saag julle in die dae wat voorlê, troos en mag sy nalatenskap voortleef in almal wat die voorreg gehad het om hom te ken.”

Johan Allers, leier van VF Plus Oudtshoorn, het sy medelye met die Jonker-familie uitgespreek.

Hy sê hy het baie respek vir Jonker gehad en beskryf sy heengaan as ’n groot verlies vir Oudtshoorn se sake- en boerderygemeenskap, en vir die Klein Karoo as geheel.

“Saag was een van die mense wat help bou het aan Oudtshoorn se naam as sentrum van die volstruisbedryf. Sy invloed het veel verder as sy eie plase gestrek. Hy het ’n groot onderneming opgebou, werk geskep en gewys wat met harde werk, deursettingsvermoë en vertroue in hierdie streek moontlik is. Ek het die grootste respek gehad vir wat hy bereik het en vir die rol wat hy oor soveel jare in ons gemeenskap gespeel het,” sê Allers.

Allers sê die Saag Jonker-groep het oor die jare ook in behuising, sanitasie, kindersorg en ontspanningsgeriewe vir werknemers en hul gesinne belê. “Plaaswerkers uit die onderneming het erkenning in streeks- en provinsiale kompetisies ontvang. Dié deel van Jonker se nalatenskap herinner daaraan dat ’n boerdery se invloed ook in mense se lewens gemeet word.”

Dr. Mark Burke, die DA Oudtshoorn se kiesafdelingshoof, sê die DA betreur die tragiese heengaan van hierdie bekende, gerespekteerde figuur wat oor baie jare ‘n besonderse bydra tot die Groter Oudtshoorn-gemeenskap gelewer het.

“Jonker sal onthou word as ’n groot werkgewer wat deur sy werk en ondernemingsgeleenthede vir talle mense werk geskep en ’n positiewe bydrae tot die plaaslike ekonomie gelewer het.

“Meer as dit, sal hy onthou word vir sy omgee-hart, sy warmte en die menslikheid waarmee hy teenoor ander opgetree het. Hy was iemand wat ’n verskil in mense se lewe gemaak het en sy gemeenskap op sy eie besondere manier gedien het.”

Die Oudtshoorn-gholfklub het ook hul medelye op Facebook gedeel. “Jonker het ‘n enorme nalatenskap in ons dorp en streek gelaat. “Ons dink veral aan sy sportnalatenskap. Hy was een van SWD se heel beste rugbyspelers ooit. Hy was ook onlangs by die gholfklub en ons het lekker saam gekuier. Hy sal vir altyd onthou word met groot ontsag en respek. Rus sag ou grote.”

Die begrafnis vind Maandag om 10:00 uit die NG kerk Oudtshoornpark plaas.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article