OUDTSHOORN – Ná ‘n soektog van meer as twee dae is die liggaam van ‘n bekende sakeman en volstruisboer Dinsdag gevind.
Saag Jonker (85) het Sondag 27 September vermis geraak kort nadat hy in sy bakkie van ‘n laagwaterbrug deur vloedwater in die Olifantsrivier meegesleur is.
Hy was glo om 12:50 in sy bruin Toyota Land Cruiser op pad terug huis toe nadat hy besoeke aan plase in die omgewing gebring het.

Polisieduikers en lede van die gemeenskap het sedert Sondag na hom gesoek, maar kon aanvanklik nie in die water kom nie oor die vloedwaters wat sterk afgekom het.
Lede van die polisie het die Land Cruiser Dinsdag sowat 300m van die brug van waar Jonker verdwyn het, gevind.
Die nuusdiens IOL berig AO Christopher Spies van die polisie sê lede van die K9-honde-eenheid en reddingspanne sowel as die plaaslike polisie en Oudtshoorn se brandweer het gister vroeg in die water na Jonker gesoek.
Daar word berig dat ‘n sekuriteitswag en ‘n vrou wat naby die rivier woon, gesien het hoe die bakkie deur die rivier meegesleur word en het hulp ontbied het.
Jonker is sedert 1976 aan die stuur van die Saag Jonker Groep in Oudtshoorn wat met volstruise boer, prosessering doen en dit internasionaal bemark. Hy is in 2000 aangewys as die Landbouskrywers van Suid-Afrika se Boer van die Jaar.
Die Hoorn, ‘n plaaslike koerant van Oudtshoorn, skryf op Facebook die Jonker-familie het in ‘n verklaring hul diepe dankbaarheid uitgespreek nadat Jonker ná drie dae van onsekerheid, hoop, gebed en ’n onvermoeide soektog, in sy voertuig in die Olifantsrivier gevind is.
“Hoewel die familie diep bedroef is, sê hulle daar is ook ’n gevoel van dankbaarheid en vrede omdat hy gevind is en hulle hom nou huis toe kan bring en saam behoorlik van hom kan afskeid neem.” berig Die Hoorn.





You must be logged in to post a comment.