Saag Jonker tussen sy volstruise. FOTO: OPSA
Saag Jonker tussen sy volstruise. FOTO: OPSA

Soektog na volstruisboer wat deur water meegevoer is, duur voort


OUDTSHOORN – Die soektog na die sakeman en volstruisboer Saag Jonker (85) wat Sondag 27 September kort voor 13:00 in sy bakkie deur die Olifantsrivier meegesleur is, duur voort.

Volgens ‘n verklaring van die Jonker-familie, was hy Sondag op ‘n laagwaterbrug wat in die Rooiheuwel-distrik oor die Olifantsrivier loop, toe die sterk stroom water hom glo in sy bakkie meegesleur het.

Hy was glo op pad terug huis toe nadat hy besoeke aan plase in die omgewing gebring het.

Die polisie, met duikers, hommeltuie en ‘n helikopter is ingespan om saam met boere, werkers en lede van die gemeenskap deel te neem aan die soektog na Jonker en teen Maandag kon nie hy of sy bruin Toyota Land Cruiser nog opgespoor word nie.

Jonker is sedert 1976 aan die stuur van die Saag Jonker Groep in Oudtshoorn wat met volstruise boer, prosessering doen en dit internasionaal bemark. Hy is in 2000 aangewys as die Landbouskrywers van Suid-Afrika se Boer van die Jaar.

Oudtshoorn Courant berig die Olifantsrivier is in vloed ná swaar reën wat in die opvangsgebied suid van Beaufort-Wes geval het.

Nog ‘n plaaslike koerant Die Hoorn het vanmiddag op sy Facebookblad berig dat die watervlakke in die gebied gedaal het wat dit moontlik sal maak vir soekspanne om dele van die rivier deeglik te verken.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article