Die Departement van Bosbou, Visserye en die Omgewing (DFFE) het sedert die geïsoleerde uitspoeling van vars sardyne naby Mbotji aan die noordelike Wildekus op Donderdag 10 September geen verdere verslae van dooie of sterwende sardyne ontvang nie.
Volgens die departement dui die gebrek aan nuwe gevalle daarop dat die akute fase van die vrektes moontlik afgeneem het. Dit is egter nog te vroeg om te sê dat die voorval verby is.
Toesig en verslagdoeningsmaatreëls bly daarom in plek. Kusowerhede, vissers en lede van die publiek word versoek om enige nuwe gevalle so gou moontlik aan te meld.
Sardynherpesvirus steeds ondersoek
Die pilchard herpesvirus (PHV) bly die sterkste biologiese faktor wat met die vrektes verbind word.
Volgens Zolile Nqayi, woordvoerder van DFFE duur laboratorium en epidemiologiese ondersoeke voort. “Monsters wat voor en tydens die vrektes versamel is, asook monsters wat daarna uit kommersiële sardynvangste verkry is, word steeds ontleed.
Die ondersoek is daarop gemik om meer duidelikheid te kry oor die oorsaak van die vrektes, die verspreiding en moontlike oorsprong van die virus, asook die moontlike rol van oseanografiese en ander omgewingstoestande,” vertel Nqayi.
Tydelike vangbeperking bly van krag
Nqayi sê die tydelike voorsorgmaatreël wat op Vrydag 11 September ingestel is en die sardynvangs beperk, bly tot Vrydag 2 Oktober van krag.
Die Klein Pelagiese Wetenskaplike Werkgroep sal môre (Dinsdag 29 September) vergader om die jongste verslae oor sardynvrektes, laboratoriumbevindings, visvangaktiwiteite en vangsinligting te bespreek.
Die groep sal daarna advies gee oor die bestuur van die geteikende sardynvissery nadat die tydelike maatreël verval.
Enige bestuursbesluit sal bekend gemaak word nadat die toepaslike besluitnemingsproses afgehandel is.
Opname sal sardyngetalle bepaal
Die beplande hidroakoestiese opname aan die einde van die jaar sal die eerste skatting van sardynbiomassa en -verspreiding ná die vrektes verskaf.
Wetenskaplike ondersoeke en samewerking met belanghebbendes duur intussen voort as deel van die reaksieplan onder toesig van die Hoëvlak-PHV-taakspan.
Die departement beklemtoon dat PHV ’n visvirus is en nie bekend is daarvoor dat dit mense besmet nie.
Kommersieel vervaardigde sardynprodukte wat deur gereguleerde kanale bemark word, bly veilig.
“Die publiek word nietemin versoek om nie dooie sardyne wat op strande gevind word, op te tel of te eet, aan diere te voer of as aas te gebruik nie,” voeg Nqayi by.


