Die Saldanha Hero's sokker-span.
Die Saldanha Hero’s sokker-span.

Krieket en Hollywoodbet-sokker maak gereed vir nuwe seisoen


Die nuwe Boland-klubkrieket- en Hollywoodbets-sokkerseisoen is op hande, en sportliefhebbers kan uitsien na opwindende somersport op die Weskus oor die volgende ses maande.

Vredenburg-Saldanha Krewe is reeds geruime tyd besig met hul voorseisoenprogramme ter voorbereiding vir die 2026/27-seisoen. Nat weerstoestande het egter ’n stokkie voor die wiel gesteek en van die beplande voorseisoenwedstryde in die wiele gery.

Boland-klubkrieket skop amptelik ná Saterdag 10 Oktober af.

Volgens inligting wat Weslander ontvang het, vind ’n algemene vergadering eerskomende naweek plaas waartydens die wedstrydlogistiek bespreek sal word.

Meer inligting oor die speelroosters van die verskillende kompetisies en belangrike datums sal later beskikbaar gestel word.

Intussen het Saldanha Hero’s, wat vir ’n tweede seisoen aan die Hollywoodbets-kompetisie deelneem, op Saterdag 12 September na Atlantis gereis vir ’n opwarmingswedstryd teen Jomo’s Power AFC op die Robinvale-sportgronde.

Die span, wat nie aan astro-bane gewoond is nie, het aanvanklik met die oppervlakte gesukkel. Namate die wedstryd gevorder het, het die spelers egter beter aangepas.

“Dit is die eerste keer wat ons span blootstelling kry aan so ’n oppervlakte, want ons speel gereeld ons wedstryde op gras. Dit was beslis ’n leerperiode vir my jong span,” het afrigter Marlon Arendse aan Weslander gesê.

“Ons hoop hierdie opwarmingswedstryde gee ons die nodige voorbereiding wat ons benodig vir die strawwe Hollywoodbets-kompetisie van die Weskus.”

Arendse was ook tevrede met sy span se vertoning teen die ervare Jomo’s Power AFC, wat voorheen in die Wes-Kaap ABC Motsepe-liga deelgeneem het.

Die Weskus Hollywoodbets-kompetisie skop in Oktober af, met spanne van regoor die streek wat gereed maak vir die nuwe seisoen.

“Hierdie opwarmingswedstryde het beslis uitgewys waar ons tekortkominge vir die 2026/27-seisoen lê, waarop ons vorentoe kan konsentreer,” het Arendse afgesluit.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition -24 September 2026
    Weslander E-Edition -24 September 2026

Gift this article