DOUGLAS – Die liggaam van ‘n sesde persoon wat sedert ‘n bootramp meer as ‘n week gelede op die Vaalrivier by Douglas in die Noord-Kaap vermis is, is Vrydag 26 Junie in die rivier gevind.
Hiermee is die liggame van al ses persone wat vermoedelik op Donderdag 18 Junie in die Vaalrivier verdrink het, gevind. Sowat 20 plaaswerkers het in die water beland ná ‘n tuisgemaakte boot omgeslaan het.
Die ses oorledenes,waarvan twee glo burgers van Malawi is, is Landi (Yolandie) Matjan (35); Neels Boom (59); Trooi Flora Olivier (40); Hans George (55); Robert Paulo (25) en Michael Herodi.
Kolonel Cherelle Ehlers, polisiewoordvoerder, sê die sesde liggaam van ‘n 25-jarige manspersoon is Vrydag omstreeks 12:00 deur lede van die polisie se provinsiale soek-en-reddingseenheid gevind.
Die vind van die sesde liggaam bring ‘n einde aan ‘n intensiewe, weeklange soektog in die rivier.
LEES OOK: Search for four after Vaal River makeshift boat tragedy claims two lives
Oorlewendes gou uit hospitaal ontslaan
Verlede week het adjudant-offisier Molefi Shemane, polisiewoordvoerder, gesê die polisie in Douglas het Donderdag 18 Junie omstreeks 06:30 inligting ontvang oor ‘n tuisgemaakte boot wat op die Vaalrivier omgeslaan het. Dié boot het glo plaaswerkers van die Vaallus-plaas na die Olierivier-plaas oor die Vaalrivier vervoer.
Die 14 persone wat die voorval oorleef het, het direk ná die voorval mediese behandeling ontvang en is later die dag uit ‘n hospitaal in Douglas ontslaan.
Shemane het gesê ‘n geregtelike doodsondersoek is geregistreer, en ‘n ondersoek na die omstandighede van die voorval duur voort.
LEES OOK: Soektog na sesde persoon in Vaalrivier duur voort; rede vir bootramp ondersoek
Departement ‘vermy spekulasie’
In ‘n verklaring spreek die Noord-Kaapse departement van landbou, omgewingsake, landelike ontwikkeling en grondhervorming, meegevoel uit met die familie, vriende, kollegas en die breër landbougemeenskap met die verlies.
LUR Lebogang Motlhaping sê die oorledenes was deel van die landelike en boerderygemeenskap. Hulle was mense wat daagliks tot die landbousektor en die behoud van hul families bygedra het.
Motlhaping sê die departement respekteer die proses wat gevolg word ná ‘n geregtelike doodsondersoek geregistreer is, en sal met die betrokke owerhede saamwerk terwyl spekulasie oor die voorval vermy word.
Die departement doen ‘n beroep op boerderygemeenskappe, plaaseienaars, werkers en landelike belanghebbendes om versigtig te wees gedurende swaar reënval en stygende riviervlakke.
“Die veiligheid van plaaswerkers en landelike gemeenskappe moet ‘n gedeelde verantwoordelikheid bly, veral in gebiede waar rivierkruisings deel vorm van daaglikse beweging en landboubedrywighede. Hierdie tragedie is ‘n pynlike herinnering aan die risiko’s waarmee landelike gemeenskappe tydens erge weersomstandighede te kampe het,” sê Motlhaping.



