‘n Sesde persoon, wie vermoedelik verdrink het, word nog vermis ná ‘n tuisgemaakte boot met 20 plaaswerkers aan boord verlede week op die Vaalrivier by Douglas in die Noord-Kaap omgeslaan het.
Die liggame van vyf persone wat tydens dié voorval op Donderdag 18 Junie verdrink het, is reeds tydens soekoperasies van die polisie se soek-en-reddingseenheid en ander rolspelers gevind.
Twee Malawiërs is glo deel van dié ses persone, waarvan een se liggaam reeds gevind is. Die sesde persoon na wie nog gesoek word is glo die tweede Malawiër.
LEES OOK: Search for four after Vaal River makeshift boat tragedy claims two lives
Donderdag kort ná die voorval is die liggame van twee mans gevind. Hulle was onderskeidelik 59 en 25 jaar oud. Vrydag is drie liggame in die rivier gevind – dié van twee vroue, onderskeidelik 35 en 41 jaar oud, asook dié van ‘n 55-jarige man.
Die SABC in die Noord-Kaap berig dat die Suid-Afrikaners wie oorlede is, die volgende persone is:
- Landi Madjan (35)
- Neels Boom (59)
- Trooi Olivier (41)
- Hans George (55)
Soekoperasie, ondersoek duur voort
Dinsdag het adjudant-offisier Molefi Shemane, polisiewoordvoerder, gesê die soekoperasie na die sesde persoon duur voort. Saterdag is die soekoperasie opgeskort weens swak sigbaarheid, terwyl Sondag en Maandag se soektog niks opgelewer het nie.
Shemane het verlede week gesê die polisie in Douglas het Donderdag omstreeks 06:30 inligting ontvang oor ‘n tuisgemaakte boot wat op die Vaalrivier omgeslaan het. Dié boot het glo plaaswerkers van die Vaallus-plaas na die Olierivier-plaas oor die Vaalrivier vervoer.
Voorlopige verslae dui daarop dat daar na bewering 20 mense aan boord was. ‘n Totaal van 14 het oorleef. Direk ná die voorval het hulle mediese behandeling ontvang en is later Donderdag uit ‘n hospitaal in Douglas ontslaan.
Shemane sê ‘n geregtelike doodsondersoek is geregistreer, en ‘n ondersoek na die omstandighede van die voorval duur voort. Intussen was amptenare van die Suid-Afrikaanse Maritieme Veiligheidsowerheid op die toneel om omstandighede te ondersoek wat tot die omslaan van die boot gelei het.
Statistiek aangehaal
Die premier van die Noord-Kaap, dr. Zamani Saul, het die toneel Vrydag 19 Junie besoek. Daarna, in ‘n plasing op sy Facebook-blad het hy gesê dat hierdie hartverskeurende verlies nie net deur die boerderygemeenskap weergalm nie, maar deur die hele provinsie.

“Elke individu wat gesterf het, is nie bloot statistiek nie; hulle was moeders, vaders en gemeenskapslede, wie se bydraes tot die landbou-ekonomie van onskatbare waarde was.”
Saul, wie die toneel in ANC-kleredrag besoek het en die Facebook-plasing onder sy titel as Noord-Kaapse ANC-provinsiale voorsitter geplaas het, sê hierdie voorval waarvan twee buitelanders deel was, beklemtoon opnuut die “kommerwekkende immigrasie-neigings” in die Suid-Afrikaanse arbeidsmark.
In die Noord-Kaap, skryf Saul, het drie ekonomiese sektore ‘n beduidende invloed op die arbeidsmark: gemeenskapsdienste, mynbou en landbou. Landbou, ongeag daarvan dat dit 7% tot die provinsie se BBP bydra, is die grootste werkgewer en maak 24% (59 000) van die werkgeleenthede uit.
Volgens statistiek wys dié sektor egter jaar na jaar ‘n afname in die arbeidersmark. Hierop het Saul geskryf dat ongedokumenteerde immigrante al meer op plase gebruik word wie se inligting nie deel van amptelike statistiek is nie.
LEES OOK: Government mobilises security forces ahead of planned anti-migrant actions




You must be logged in to post a comment.