Toyota by Nampo-oesdag 2026
Toyota Suid-Afrika en van sy duisende Hilux-bakkie-eienaars by Nampo. FOTO: toyota.co.za

BOTHAVILLE – Van heinde en verre en met pure bakkiebloed in die are het eienaars van Hilux-bakkies verlede week saamgestaan en die Guinness-wêreldrekord vir die grootste byeenkoms van dié hardebaard-bakkies verbeter.

Dié saamtrek van 1 545 Hilux-bakkies – van klassieke modelle uit die 1970’s tot die nuutste modelle – het Woensdag 13 Mei tydens die Nampo-oesdag by Bothaville in die Vrystaat plaasgevind.

Toyota by Nampo-oesdag 2026
Hilux-bakkies kom in honderde by die Nampo-oesdag aan. FOTO: toyota.co.za

Op dié dag het Toyota Suid-Afrika boonop nóg vier Guinness-rekordpogings aangepak waarvan die resultate nog onder beoordeling is en aangekondig sal word sodra dit bevestig is. Dié pogings is:

• die meeste voertuie wat gelyktydig hul ligte aanskakel;

• die meeste toeters wat gelyktydig geblaas word;

• die meeste voertuigdeure wat gelyktydig toeklap; en

• die meeste agterklappe wat gelyktydig toegemaak word.

Die rekord van die meeste voertuigligte wat gelyk aangeskakel word, asook die meeste voertuigdeure wat gelyk toegemaak word, word tans deur Suzuki Auto South Africa gehou. Dit is in 2023 en 2025 tydens Jimny-byeenkomste bereik.

Tans word die rekord van die meeste toeters wat gelyk geblaas word, deur die Ford Everest Club Philippines gehou toe 1 077 voertuie op 23 Augustus 2023 dié rekord bereik het.

‘n Rekord bestaan nog nie vir meeste agterklappe wat gelyk toegemaak word nie.

‘Goed ingery’ en splinternuut in die kollig

Nog ‘n hoogtepunt Woensdag was die amptelike bekendstelling van die splinternuwe negende-generasie Toyota Hilux. Boonop, ná ‘n gelukkige trekking het een deelnemer, Hendrik Coetzee, so ‘n splinternuwe model gewen – die Toyota Hilux Xtra Cab. Versekering en bykomstighede is by die prys ingesluit.

Toyota by Nampo-oesdag 2026
Die Toyota Hilux Xtra Cab wat deur ‘n deelnemer gewen is. FOTO: toyota.co.za

Dit was nie net blink en nuut wat aandag getrek het nie. David Bierman, ‘n professionele jagter, se Hilux was ook in die kollig. Teen Woensdag het sy 3.0L 2002-model reeds 1 512 239 kilometer gedoen – dit met die oorspronklike enjin en oorspronklike ratkas.

Bierman het vertel dat hy die tweede eienaar van dié Hilux is – die eerste eienaar het ongeveer 118 000 kilometer met die bakkie gery.

Leon Theron, senior visepresident van verkope en bemarking by Toyota South African Motors, sê dit was ‘n onvergeetlike dag.

“Ons het ons visier op die maak van geskiedenis gestel en ons Hilux-gemeenskap van oor Suid-Afrika heen het agter ons gestaan. Dit gaan nie net gegaan oor die poging om rekords te verbeter nie, maar ook oor die blywende nalatenskap van die Hilux en die sterk gemeenskap wat dit omring.

“Die byeenkoms was ‘n lewendige uitstalling van die Hilux-bakkie se plaaslike geskiedenis sedert sy Suid-Afrikaanse debuut in 1969.”

Hierdie wêreldrekords verbeter

Met Woensdag se aanteken van die wêreldrekord van die meeste Hilux-bakkies op een plek, verbeter Toyota Suid-Afrika sy eie prestasie van 2010 toe 496 Hilux-bakkies in die Atlantis-duine in die Wes-Kaap saamgetrek het. Dié rekord is amptelik deur Guinness Book of World Records geverifieër en aangeteken.

In 2025 het Southland Toyota in Nieu-Seeland egter dié rekord verbeter. Op 2 Maart 2025 het 1 440 Hilux-bakkies op die Real Country Farm, suid van Lake Wakatipu, saamgetrek om dié Suid-Afrikaanse rekord van 2010 te verbeter.

Toyota by Nampo-oesdag 2026
Ou en nuwe Hilux-modelle trek saam. FOTO: toyota.co.za

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article