Die plaas Twyfelhoek se hek.
Die pad na Twyfelhoek. FOTO: Verskaf

TWYFELHOEKIE | Haar aanhaling oor oordeel staan rotsvas


Tannie Bettie was maar altyd net deel van ons lewe. Sover ek kan terugdink was sy daar.

Sy was ‘n goeie vriendin van Ouma Sarie en ‘n verpleegster van beroep. Sy kon die mooiste stories van Griekwastad-hospitaal en haar werk vertel.

Self was sy nooit getroud nie en ons was dus eintlik maar haar kleinkinders.

Ma sou elke dag vir haar ‘n bakkie kos pak en Sondag as ons haar op- of aflaai vir kerk sou ons haar voorraad genoegsaam aanvul.

Sy was baie lief vir eet en die ouetehuis se kos, in haar woorde, was baie goed, maar veel te min vir ‘n lyf soos hare.

Die dag toe Ouma Sarie dood is was haar hart net so seer soos ons s’n en die dag toe sy oorlede is was my hart so seer asof ek nog ‘n ouma verloor het.

Sy het min besittings op aarde gehad, maar tog vir my ‘n krat boeke nagelaat. ‘n Erfenis wat ek koester en as ek ‘n boek oopmaak en haar naam is voor in, dan onthou ek al haar mooi.

As daar nou een ding is wat ek so duidelik van haar onthou is dit haar vermoë om nie te oordeel nie.

Sy het graag aangehaal – onthou om nie te veroordeel nie, want met dieselfde maat waarmee jy meet, sal oor jou gemeet word.

Daardie woorde het ek amper weekliks by haar gehoor.

Sy sou nie elke keer die volle aanhaling gebruik nie. Soms sou sy dit opsom en afkort met ‘n sin soos: onthou die maat waarmee jy ‘n ander meet is gevaarlik…

Tannie Bettie kon so lekker ‘n perske skil en sit en gesels terwyl die perskesap so spat. ‘n Mens moet op die plaas grootword om te verstaan hoe smaaklik die oumense so ‘n perske kon skil en eet.

En as die sop so spat, hoor ek haar… oppas vir die maat waarmee jy ‘n ander meet.

Daarmee sal jy gemeet word.

  • Lees nog rubrieke en meningstukke hier.
NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article