LOXTON, Noord-Kaap – Die boomryke strate van Loxton is deel van dit wat dié Noord-Kaapse dorp so besonders maak.
In 1899 met die ontstaan van die dorp het ene NJH Theunissen meer as 400 bome op sy eie koste geplant om ‘n oase in die Bo-Karoo te skep.
Hoewel Loxton vandag steeds bekend vir sy boomryke strate is – soos die reuse peerbome wat die dorp in lente in wit tooi – is van die ou bome besig om dood te gaan.
Om die besondere erfenis te behou het inwoners met die “Belê in ‘n Boom”-projek begin om 500 nuwe bome langs Loxton se strate te plant.
LEES OOK: Loxton se dambraai-geleentheid help om Karoo-dorp boomryk te hou
Enige persoon kan vir R500 ‘n boom borg – ‘n nalatenskap wat vir geslagte lank kan groei en eendag skadu vir nageslagte kan bied.
Elke geborgde boom word geplant, omhein om dit teen rondlopervee te beskerm, van water voorsien, versorg en met ‘n unieke nommer gemerk. Skenkers ontvang ook ‘n sertifikaat van erkenning en waardering.
Danie Snyman, inwoner en betrokkene by die projek, sê of dit ‘n familieboom, herdenkingsboom, verjaardagboom, huweliksboom, besigheidsboom of sommer net ‘n geskenk is wat aanhou groei, is dit ‘n belegging in die toekoms om in ‘n boom te belê.
- Vir meer inligting, stuur ‘n boodskap op WhatsApp na 083 414 8110 of skryf aan danie@arizonawildlife.co.za.
- Besoek ook Lieflik in Loxton en Loxton Online op Facebook vir meer inligting oor aktwiteite wat in die dorp aangebied word.




