Fraserburg se Peperbus
Fraserburg se Peperbus wat grootliks ineengestort het. FOTO: Facebook / Karoo Fossil Tours

‘Hartseerdag’ vir Fraserburg se erfenis toe historiese Peperbus ineenstort


FRASERBURG – Saterdag word as ’n “hartseerdag vir Fraserburg se erfenis” beskryf toe die historiese en unieke seskantige Peperbus wat reeds 165 jaar deel van die dorpsbeeld is, ná die onlangse swaar reën grootliks ineengestort het.

Die Peperbus, waarna in Engels as die “Pepper Pot” verwys word, is in 1861 gebou en “is veel meer as net ou mure. Dit is deel van Fraserburg se geskiedenis en van die nalatenskap wat ons aan toekomstige geslagte behoort oor te dra,” skryf Marinda Oberholzer, toergids en inwoner, op die Facebook-blad Karoo Fossil Tours.

Fraserburg se Peperbus
Weinig is oor van die historiese en seskantige Peperbus. FOTO: Facebook / Karoo Fossil Tours

“Ons hoop van harte dat die Peperbus weer uit sy eie klip en stof sal verrys,” skryf Oberholzer ook. Die wens is uitgespreek dat die omvang van die skade dringend deur kundiges beoordeel word, en dat die oorblywende struktuur en oorspronklike boumateriaal beskerm en gedokumenteer word met die oog op moontlike herstel of rekonstruksie.

” ‘n Mens het gemengde gevoelens beleef, en jy was tot stilstand geruk en verslae. Die eerste reaksie was om planne te maak om dit weer te herbou,” sê Oberholzer Maandagoggend.

Sy vertel dat sy sedert die Peperbus se ineenstorting ‘n warboel van gedagtes gehad het, onder meer om dit van die grond af met stewiger materiaal te herbou. Weens die rou stene en ander boumateriaal wat oorspronklik gebruik is, sal kundiges se hulp ingeroep moet word wat ‘n groot uitgawe sal wees. Dit sal nie deur die Karoo Hoogland-munisipaliteit of die gemeenskap gedelg kan word nie.

Boonop, weens die feit dat die struktuur nie meer in gebruik is nie, en dat so ‘n nuwe struktuur teen hoë koste opgerig word vir iets wat nie funksioneel is nie, het sy begin wonder of dit ‘n goeie idee is.

Oberholzer vertel dat ‘n boer van die omgewing haar Maandag vroeg gebel het met die idee om ‘n skaalmodel langs die oorspronklike Peperbus op te rig, wat veel goedkoper sal wees. ‘n Ander idee van ‘n vriendin is om ‘n geboutjie langs die ligging op te rig en dit as ‘n Peperbus-museum in te rig.

Indien die weg gevolg gaan word, hoop Oberholzer dat daar dele van die oorspronklike struktuur is wat herwinbaar is, en op uitstalling geplaas kan word.

“Ons kry baie oulike idees uit die gemeenskap, maar wat op die einde gaan gebeur weet ons nog nie,” sê sy.

LEES OOK: Wolbom brei hoop, bemagtiging vir Karoo-inwoners uit

Klok kondig opening van mark aan

Die Peperbus in Meyburghstraat is saam met die ou pastorie en Afrikaanse Protestantse kerkie – vroeër die Anglikaanse kerk – een van net drie nasionale gedenkwaardighede of provinsiale erfenisterreine in die dorp.

Adam Jacobs het die Peperbus opgerig na ‘n plan deur ds. Carl Arnoldus Bamberger, die eerste leraar van die NG kerk Fraserburg. Volgens bronne is die buitemate deursnit van die gebou se klipfondasie 10 meter en die gebou self sowat 8 meter. Die hoogte word nie aangedui nie en die fondasie is van plaaslike klip gebou, en die res van die struktuur in Barokboustyl het slegs een deur en een venster.

Fraserburg se Peperbus
Die Peperbus wat reeds vir 165 jaar deel van Fraserburg se geskiedenis is. FOTO: Facebook / Karoo Fossil Tours

Die oorspronklike bedoeling was dat dit die markhuis moes wees en die klok die opening van die mark moes aankondig. Die mark was gou iets van die verlede, maar daarna het die Peperbus onder meer diens gedoen as die magistraat se privaat kantoor, die dorp se eerste biblioteek, die stadsklerk se kantoor, kerkkantoor en studeerkamer van die hulpprediker. Munisipale stemmings is al daarin gehou en later het dit as bergplek van die ACVV se hospitaalmeubels gedien. Omstreeks 1951 was dit die skoolraadskantoor.

In die sestigerjare het die dorpsraad dit aan ‘n komitee afgestaan sodat dit as museum kon dien, maar die afgelope jare het dit leeggestaan en tekens van ernstige verval begin toon. In April 2016 is ligte herstelwerk aangepak, en sedertdien is talle pogings aangewend om geld in te samel vir volle restourasie. ‘n Petisie is ook opgestel om aan die Karoo Hoogland-munisipaliteit, op wie se grond die Peperbus staan, te oorhandig.

LEES OOK: Wolbom van Fraserburg laat mense weer gesels

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article