Die Senotaafsaal van die Voortrekkermonument het Saterdag 10 Augustus ‘n besondere kulturele hoogtepunt beleef toe kultuur en kultivar op simboliese wyse paaie gekruis het tydens die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) se “Winternag”-kersligskemerkonsert.
Die geleentheid, wat deel vorm van die FAK se weeklange viering van die 150ste herdenking van die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA), het nie net hulde aan Eugène Marais en sy legendariese gedig gebring nie, maar ook die bekendstelling van ‘n unieke wynversnit wat Afrikaans se ryk geskiedenis vier.
Historiese wynbekendstelling
Schalk Burger sr., voormalige Springbokflank en eienaar van die Welbedacht-wynlandgoed, het tydens die konsert Die Afrikaanse Patriot Kaapse Versnit bekendgestel – ‘n spesiale versnit wat die 150-jarige stryd om Afrikaanse taal-erkenning vier.
Die keuse van Welbedacht as tuiste vir hierdie simboliese wyn is nie toevallig nie. Die landgoed het ‘n diep historiese verbintenis met die vroeë Afrikaanse taalbeweging deur C.P. Hoogenhout, een van die stigterslede van die GRA wat op 14 Augustus 1875 gestig is.
“Die historiese Groenberg-skool op die plaas Welbedacht is onlosmaaklik verbonde aan die vroeë stryd om die erkenning van Afrikaans, en ek en my seuns kon nie anders nie as om die simboliek van hierdie ryke erfenis te laat voortleef,” verduidelik Burger.
Rebellie wat momentum gekry het
Hoogenhout, wat reeds in 1873 in Afrikaans begin skryf het, het in ‘n daad van kultuurbewuste rebellie teen die Nederlandse skoolstroom besluit om in Afrikaans by die Groenberg-skool op Welbedacht te onderrig. Sy onwrikbare toewyding het nie net die skool tot ‘n spilpunt van taalweerstand omvorm nie, maar ook die breër Afrikaanse taalbeweging ‘n hupstoot gegee.
Die GRA se lede moes aanvanklik onder skuilname skryf toe Afrikaans deur die hoofstroom as absurd beskou is, maar hulle volharding het die Eerste Taalbeweging stewige momentum gegee. Die eerste Afrikaanse koerant, Die Afrikaanse Patriot, het in 1876 die lig gesien.

‘n Aand van kuns en kultuur
Die “Winternag”-konsert het die ryk nalatenskap van Eugène Marais op veelstemmige wyse herleef. Monica Cliff, kleinkind van Gustav Preller en een van Marais se beste vriende, het persoonlike herinneringe gedeel, terwyl bekende aktrise Magda van Biljon as verteller en dramatiese kunstenaar opgetree het met uitvoerings van werke soos “Skoppensboer”.
Die aand, vernoem na Marais se ikoniese gedig wat vanjaar 120 jaar gelede geskep is, het gaste meegevoer op ‘n reis deur die Afrikaanse siel met kerslig, poësie en koorsang.
Vloeibare erfenis met ‘n missie
Dawid Brand, bedryfshoof van beeld en groei by die Voortrekkermonument, beskryf Die Afrikaanse Patriot Kaapse Versnit as meer as net ‘n smaakervaring. “Dit is ‘n uitnodiging om deel te word van iets groter: ‘n beweging om Afrikaans met trots te praat en om ons geskiedenis met waardigheid te herdenk,” sê hy.
Die wyn se etiket getuig van Afrikanererfenis met elegante tipografie, historiese motiewe en sterk estetiese verwysings na die 19de-eeuse taalbeweging. Burger beskryf dit as ‘n “vloeibare lied van trots” en ‘n eerbetoon aan die uithouvermoë van ‘n gemeenskap wat deur dekades heen hul taal en kultuur bewaar het.
In ‘n gebaar wat sy hart vir taal en kultuur weerspieël, word ‘n gedeelte van elke bottel se verkoopprys aan die bewaring van die Voortrekkermonument geskenk.
“Die Senotaafsaal is ‘n besonderse ruimte en ‘Winternag’ se klank, kerslig en poësie het ‘n aand van sielsverryking en hernieude taaltrots gebring,” het Brand afgsluit.
Die inisiatief word as ‘n toonbeeld gesien van hoe wyn en kultuur mekaar op betekenisvolle maniere kan komplementeer in die bewaring van Afrikaanse erfenis vir toekomstige geslagte.
LEES NÓG: Afrikaans vier 100 jaar.






You must be logged in to post a comment.