Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) het Maandag sewe uitstaande taal- en kultuurpioniers tydens ‘n Prestige-oggendtee in die FAK-Liedjietuin by die Voortrekkermonument vereer. Die spesiale geleentheid vorm deel van die organisasie se weeklange viering van die 150ste bestaansjaar van die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA).
Die toekennings gee erkenning aan individue wat hul lewens daaraan gewy het om Afrikaanse taal, kultuur en geskiedenis te bevorder en vir toekomstige geslagte te bewaar.
Simboliese tydsberekening
“Ons vier nie net ‘n taal se verlede nie,” verduidelik dr. Danie Langner, besturende direkteur van die FAK. “Ons bou ‘n lang tafel waaroor geslagte heen gesprekke gevoer kan word – met tee, stories en lag, soos net Afrikaanse gemeenskappe dit kan doen.”
Die toekenningsgeleentheid, ‘n jaarlikse hoogtepunt op die FAK-kalender, is bewustelik tydens die GRA-week aangebied as simboliese erkenning van die historiese stigting van die GRA in 1875.
Ziegfried van Huyssteen, bedryfshoof van die FAK, beklemtoon die betekenis: “Die GRA het die grondslag gelê vir Afrikaans as ‘n volwaardige kultuur- en omgangstaal. Om 150 jaar later steeds voort te bou op daardie nalatenskap, is ‘n ongelooflike voorreg.”
Die 2025-toekenningwenners
Dr. Theuns Eloff – vereer vir sy dienswerk om ‘n toekoms vir Afrikaans te help skep. As voorsitter van die oorsigkomitee wat die Afrikaans 100-veldtog landwyd stukrag gee, is hy aktief betrokke by die eeufeesviering van Afrikaans as amptelike landstaal.
“Ek is dankbaar vir die werk wat ek kon doen en dis verblydend om te sien dat ons jongmense gereed is om die taalfakkel die toekoms in te dra,” sê Eloff.
Jopie Koen – erken vir die bevordering van die Afrikaanse teaterwese, veral deur die vestiging van die Pierneefteater. Haar nalatenskap as stigter, navorser, digter en kultuurorganiseerder vorm ‘n onuitwisbare deel van die Afrikaanse kultuurerfenis.
Lucia van Wyk – die uitvoerende hoof van die BCVO ontvang erkenning vir die bevordering van selfstandige Afrikaanse onderwys.
“Ons is rentmeesters wat die toekoms moet bou, en wat ‘n voorreg is dit nie om dit vir die jeug te doen nie,” sê sy. “Mag ons die aflosstokkie met gesag en trots verder dra, en dit aan die volgende geslag oorgee.”

Prof. Hennie van Coller – die professor emeritus en navorsingsgenoot aan die Universiteit van die Vrystaat is vereer vir die bevordering van Afrikaans as akademiese taal. Hy word beskou as een van die belangrikste akademiese stemme in die Afrikaanse literatuurgeskiedenis.
Prof. Franci Greyling – ontvang ‘n Prestigetoekenning vir die bevordering van kreatiewe Afrikaanse skryfkuns. Haar kernbydrae sluit die skepping van Storiewerf in, wat vanjaar sy 25ste bestaansjaar vier en duisende jong skrywers en kinders ‘n platform gebied het.
Prof. Thys Human – vereer vir sy betekenisvolle bydrae tot die verdieping en bevordering van die Afrikaanse letterkunde en kultuurerfenis. Die toegewyde akademikus doseer sedert 2013 aan die Noordwes-Universiteit.
Wessel Oosthuizen – erken vir die bevordering van Afrikaanse joernalistiek in woord en beeld. Met ‘n loopbaan wat oor ses dekades strek, het hy ‘n visuele nalatenskap van onskatbare waarde geskep deur die Suid-Afrikaanse geskiedenis vas te vang.
Betekenisvolle omgewing
Dawid Brand, bedryfshoof van beeld en groei by die Kultuurtuiste, beklemtoon die simboliek van die venue: “Die FAK-Liedjietuin, waar talle kunstenaars met liedjieborde en naamrose vereer is, het ‘n besondere simboliek en stylvolheid aan die oggend verleen. Hier word gehuldig en gevier tussen die name van dié wie se stemme en wysies deur geslagte eggo.”
Die toekennings onderstreep die voortdurende belangrikheid van individuele bydraes tot die bewaring en groei van Afrikaanse kultuur, veral in ‘n jaar wat beide die GRA se 150ste bestaansjaar en Afrikaans se eeufees as amptelike landstaal vier.
LEES OOK: Historiese wynbekendstelling vier 150-jaar van Afrikaanse-taalstryd




You must be logged in to post a comment.