POTPOURRI | Leer van dag tot dag by elkeen wat ‘n draai in jou lewe maak

Karin Muller
Karin Muller. FOTO: Verskaf

POTPOURRI | Leer van dag tot dag by elkeen wat ‘n draai in jou lewe maak


“Nee,” berispe ek myself hardop. My man loer oor my skouer waar ek besig is om toebroodjies te maak.

“Met wie praat jy?” vra hy.

“Met myself,” antwoord ek. “Ek is besig om lui-huisvrou-broodjies te maak.”

Sy gesigsuitdrukking is vol vraagtekens. Ek glimlag en verduidelik.

Wanneer jy toebroodjies maak, moet jy die smeersels en vulsels tot aan die rant van ‘n sny brood smeer, nie net in die middel of tot naby die korsies nie. Anders maak jy lui-huisvrou-broodjies.

“My ma het my dit geleer,” voeg ek ingedagte by.

Ek weet wat jy gaan vra – nee, ek weet nie of daar flukse-huisvrou-broodjies bestaan nie, maar ek weet jy mag nie lui-huisvrou-broodjies maak nie.

Mense maak ‘n draai deur ons lewe en leer ons spesifieke dinge. Hulle leer jou stap vir stap hoe om iets te doen en leer jou ook die redes waarom dit só gedoen word. Dit bly jou soms lewenslank by.

Dan is daar mense wat ‘n draai deur ons lewe maak wat ons, gewoonlik onbewustelik, leer hoe om iets nié te doen nie. As ons oplet en besef dat hierdie manier van doen nie die maklikste of beste is nie, gee dit ons die geleentheid om hierop te verbeter of dit op ‘n ander manier te doen.

Namate jy ouer word, kry jy die geleentheid om weer iemand anders uit jou ondervinding te leer.

In baie gevalle is ons nie bewus van dinge wat ons vir iemand anders leer of self geleer is nie. Ons doen dit sonder om te dink.

Watter dinge het jy geleer wat waarde tot jou lewe toevoeg en wat jy weer vir iemand anders kan leer?

Watter dinge het jy vroeg-vroeg besluit om juis nie só te doen nie?

  • Lees nog rubrieke en meningstukke hier en hier.
NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article