Hoofartikel: Wat jou laat stop.
Stop vir ‘n oomblik en oordink hierdie mening. FOTO: Helena Barnard

Terwyl ons die afgelope dae begin hand uitsteek het na baadjies in die klerekas en gewonder het of dit te vroeg is om reeds ‘n serp om die nek te draai, het die eerste sneeulagie op Matroosberg in die Wes-Kaap neergedaal.

Foto’s daarvan het sommer vinnig op sosialemediaplatforms verskyn, en soos met reën-, hael- en wolkfoto’s word die “likes” en kommentaar baie gou meer en word die foto’s oor en weer gedeel.

Drie kouefronte wat met ysige kloue ál om die suidpunt van Afrika sweef, was ook verlede week groot nuus.

Foto’s van gevulde reënmeters word gereeld gedeel, en video’s van stormsterkwind wat tuinmeubels rondwaai en soms dakke afwaai, is hoog op die gewildheidsleer.

So sit talle mense die TV-nuus deur om volle aandag aan die weervoorspelling te gee, en saans voor slaaptyd word die weervoorspelling-app op die selfoon bekyk om te sien wat die dag van more (weergewys) bring.

Soggens word die dag se weervoorspelling gou weer ‘n keer op die app bevestig, net om seker te maak dit het nie intussen drasties verander nie.

Talle bronne dui aan dat mense in die algemeen obsessief oor weerpatrone is omdat dit ‘n gevoel van beheer en voorspelbaarheid in ‘n andersins onsekere wêreld bied.

Vir baie is die voortdurende nagaan van ‘n weer-app ‘n manier om “klimaat-angs” of vrees vir ekstreme gebeure te bestuur.

Deur te weet ‘n reënstorm, hittegolf of kouefront is op pad, beplan ‘n mens nie net jou kleredrag nie, maar ook roetes en skedules.

Boonop is weersake ‘n neutrale én universele tema en veilige gespreksonderwerp wat politieke en maatskaplike grense oorsteek.

Dit is jammer dat die weervoorspelling-apps beperkings het, want dit wil voorkom of ‘n perfekte storm vir Suid-Afrika aan die broei is – van die onvermydelike gevolge van munisipale ineenstortings, hoër brandstof- en elektrisiteitspryse, tot die politieke gemaal en onrus altyd voor ‘n verkiesing.

Geen app berei ons vir hierdie storm voor nie; jy het geen idee van geskikte gedrag, roete of skedule nie.

Maar, aan die ander kant, sulke gebeure is soms ‘n tipiese storm in ‘n teekoppie – met altyd weer sonskyn ná die reën.

  • Lees nog rubrieke en meningstukke hier.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article