‘n Tyd terug besoek ek ‘n bekende instelling namens ‘n kliënt. Die besoek was nie beplan nie en ek druk dit tussen ander afsprake in.
Om 08:00 is ek voor hul deur. Daar staan ‘n paar mense rond. Ek doen navraag oor waarom hulle buite staan.
“Op Woensdae maak hulle 09:00 oop,” antwoord ‘n vreemdeling. My moed sak in my skoene. Ek staan senuweeagtig rond.
“Ek moet ook by my skroppie uitkom,” gesels iemand anders.
As ek later terugkom, gaan dit langer neem; ek sal moet wag.
Om toekomstige frustrasie te bekamp, neem ek ‘n foto van die kennisgewingbord wat die besigheidsure aandui.
Die nota wat sê “No Photographs” val my op. Toe val die sekuriteitskamera my op wat besig is om my af te neem. Te laat. As hierdie besigheid binnekort beroof word, gaan ek waarskynlik die hoofverdagte wees.
Op een van die kennisgewingborde staan: “No dangerous weapons.” Is alle wapens nie gevaarlik nie? Ek wonder of ‘n naelknipper as ‘n wapen gebruik kan word. Dalk ‘n vurk, as jy middagete ingepak het.
Die gefladder van ‘n duif onder die oorhang van die dak laat almal opkyk. Meer mense begin hul verskyning maak en vra waarom ons buite staan.
‘n Vroutjie met ‘n krat vol broodjies, vetkoeke en koekies neem haar plek by een van die pilare in. Een-vir-een kom werknemers uit en gesels met haar terwyl hulle kos koop. Ek het baie respek vir mense met inisiatief wat nie bang is vir werk nie. Ek wonder hoe vroeg sy al aan hierdie vetkoeke werskaf.
Mense begin ongeduldig raak. Die deure word oopgemaak en mense draal na binne.
Ek voel beter. Ek kon ‘n oomblik tot stilstand kom en asem skep.
Mag jy, wat ‘n besige program het, ook iewers tot stilstand kom – selfs al neem iemand anders die besluit namens jou.
- Lees nog rubrieke en meningstukke hier.



