Wanneer jy Kimberley op die N12 vanuit die rigting van Warrenton binnery, laat die reuk van riool jou asemloos. Net so met die inryslag vanaf Boshof op Aristotleweg en verby Cassandra.
Jy wonder hoe dié buurt se inwoners die reuk enigsins uithou.
Is jy op besoek in Beaconsfield, of Roodepan, of Upington of Wrenchville, noem maar op: Die rioolreuk bly nie agterweë nie. Ook nie die strome water weens lekkende waterpype en sproeiers; gevaarlike, oop mangate; slaggate en slote in paaie; gebrek aan padmerke en -tekens; onversorgde parke; tekens van vandalisme; stukkende verkeers- en straatligte; opgehoopte rommel op sypaadjies; en berge rommel op oop terreine.
Dié verweer en agteruitgang in munisipaliteite het stadig maar baie seker oor ‘n klomp jare plaasgevind en die tragiese toestande is weer deur die ouditeur-generaal se nuutste verslag bevestig.
Nou, met die plaaslike regeringsverkiesing in die nabye toekoms word hoop in die vorm van beloftes van beterskap aan inwoners verkwansel.
Hoop ‘n dryfveer
Hoop is iets eenvoudigs. Dit is ‘n emosie, vermeng met die verwagting dat iets dalk wel moontlik kan wees – in hierdie geval beterskap van munisipale dienste.
Hoewel eenvoudig, is hoop so belangrik dat die Verenigde Nasies (VN) in 2025 die Internasionale Dag vir Hoop vir 12 Julie elke jaar uitgeroep het. Hoop is nodig, sê die VN, in die wêreld met toenemende onrus, groterwordende maatskaplike verdeeldheid en voortdurende ekonomiese en omgewingsuitdagings.
Hoop is ‘n dryfveer wat deur die geskiedenis heen individue en gemeenskappe gepor het om teenspoed te oorbrug, drome te volg en positiewe verandering teweeg te bring.
Volgens Psychology Today hou hoop ons aan die gang in die mees benarde oomblikke, want hoop wys die moontlikheid van iets beters vorentoe.
Die keersy van hoop, sê hulle, is vrees. Soms is dit makliker om in vrees en wanhoop te verval as om hoop te behou.
Is dit vrees en wanhoop wat oorheers wanneer inwoners nie optree teen die gesinslid of bure wat vandalisme pleeg nie; wat veroorsaak dat inwoners sit terwyl hul rommel op hul erf ophoop – daar waar plek vir ‘n groentetuin of vrugtebome kon wees?
Vrees kan hoop van sy krag ontneem en optrede verlam. Dit terwyl optrede juis belangrik is. Hoop bestaan. Dit is nie blote wensdenkery nie. Hoop beskaam nie. Dit waarop jy hoop, kan altyd moontlik wees deurdat jy stappe beplan en optree om dit te bereik.
- Lees nog rubrieke en meningstukke hier.



