‘n Vrou rook vermoedelik tik in die teenwoordigheid van bloedjong kinders.

Vrou lê klag oor video van haar wat rook naby klein kinders


SALDANHA – ‘n Video waarin ‘n 40-jarige vrou na bewering tik rook terwyl drie jong kinders saam met haar op dieselfde bed is, is wyd op sosiale media versprei en haar genoop om ‘n klagte by die polisie te gaan lê.

Volgens kapt. Tania Helfrich, ‘n woordvoerder vir die Weskus-polisie, het die vrou van Hopland, Saldanha, verlede Vrydag (4 September) ‘n klagte by die Saldanha-polisie aangemeld oor ‘n voorval op Donderdag 27 Augustus.

Volgens die vrou het sy omstreeks 17:00 saam met drie kleiner kinders op haar bed gesit en rook toe die verdagte haar glo sonder haar toestemming afgeneem het. Die klagte is volgens Helfrich ingevolge die Wet op die Beskerming van Persoonlike Inligting (Popia) aangemeld.

Die video wys hoe die vrou iets rook (vermoedelik tik), terwyl een van die kinders naby haar aan die wit poeier raak. Die kind druk hierna haar handjie in haar mond.

Die video het intussen groot reaksie ontlok, onder meer weens die teenwoordigheid van die kinders rondom die vermeende dwelmmiddel.

Die polisie kon glad nie aandui of die verspreiding van die video tot enige verdere ondersoek na moontlike kinderverwaarlosing of dwelmverwante oortredings gaan lei nie.

  • Weslander is in besit van die video maar beskerm die kinders se identiteit deur dit nie te versprei nie.
NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 10 September 2026
    Weslander E-Edition – 10 September 2026

Gift this article