MOORREESBURG – Koringboere in dele van die Swartland het vanjaar reeds tussen 50% en 60% van hul oes verloor, terwyl die koste om die gewas te verbou steeds styg en die invoertarief op koring in Augustus tot nul verlaag is.
Frikkie Theron, voorsitter van die Moorreesburg-boerevereniging, het ná die onlangse Swartlandskou sy kommer met Weslander gedeel oor die droogte en toenemende druk op plaaslike koringprodusente.
Volgens Theron het die jaar aanvanklik belowend begin. Die Swartland-omgewing het in April en Mei 176 mm reën ontvang, byna drie keer die tienjaargemiddelde. Boere kon onder goeie toestande plant, kunsmis toedien en bespuitings doen.

Daarna het die reën egter weggebly. Slegs 43 mm het van Junie tot Augustus geval, sowat 79% minder as gewoonlik. Dit is juis die tyd wanneer droëlandkoring water nodig het.
“Koring is ’n ongelooflike taai gewas, en die boere het op hulle knieë gebly,” sê Theron. “Maar dit het net nie gerealiseer nie. Ons kan al die planne maak wat ons wil, sonder water kom ons nêrens.”
Die skade verskil van gebied tot gebied. Sommige boere het volgens Theron reeds 50% tot 60% van hul oes verloor, terwyl ander nog wag om te sien wat die werklike opbrengs sal wees. “Dit lyk of daar nog iets op die land staan, maar tot daar nie fisies geoes word nie en ons sien wat in die koringtenk beland, weet ons nie.”
Die finansiële uitwerking is egter reeds duidelik. “Al die onkoste is aangegaan, en nou is daar nie ’n inkomste nie weens die droogte.”
Volgens Theron het direkte insetkoste vir Swartlandprodusente tussen 2016 en 2026 met sowat 65% gestyg, terwyl die markprys in dieselfde tydperk slegs met 36% aangepas is. Suid-Afrika se koringaanplantings is gevolglik vanjaar op hul laagste vlak in 97 jaar.
Die druk word volgens Theron verder verhoog deur ingevoerde koring. Op 6 Augustus is die invoertarief op koring van R153,70 per ton tot nul verlaag. “Plaaslike produsente met duur insetkoste moet nou meeding teen ingevoerde, soms ondergraadse koring teen ’n nultarief.”
Theron meen oorsese produsente word op verskillende maniere gesubsidieer, wat volgens hom beteken plaaslike boere meeding nie op ’n gelyke speelveld nie. “Ons is ’n invoerland, ek verstaan dit. Maar jy kan nie koring in Kaapstad se hawe inbring net voor of tydens die Swartlandboer se oesseisoen nie. Jy raak ons prys, jy raak die stoorfasiliteite, en boonop sukkel boere om ’n mark vir hulle koring te kry.”
Theron sê boere vra nie gratis gunste nie, maar ’n gelyke speelveld. Hy meen Suid Afrika benodig ’n nasionale droogteversekering soortgelyk aan meganismes in die buiteland. Hy vra ook groter duidelikheid van banke en landboubesighede oor ondersteuning tydens moeilike jare, aangesien oormatige skuld boere verder onder druk plaas.
Volgens hom moet besluite ook vinniger geneem word. “Boere kan nie jare wag vir ’n antwoord nie.”
Theron sê die Swartland se produsente het nou meer as ooit ondersteuning nodig, veral omdat landbou steeds een van die grootste werkverskaffers in die land is. “Ons is ’n veerkragtige nasie. Maar dit voel of die man geskop word terwyl hy op sy knieë is.”
Die volle omvang van die droogteskade sal eers met die oes duidelik word. Theron behou egter hoop.
“Ons moet eers op die lande kom en sien. Maar ons glo volgende jaar sal weer ’n mooi jaar wees. Kyk, niemand het hoop en moed soos ’n boer nie.”






You must be logged in to post a comment.