SALDANHA – ‘n Baba van 10 maande oud is in die Groote Schuur-hospitaal in die Kaap opgeneem met albei bene gebreek, waarna ‘n kinderbeskermings- en polisieondersoek van stapel gestuur is.
Die baba se ouma het gister ‘n saak by die Saldanha-polisie aanhangig gemaak. Kapt. Tania Helfrich, Weskus- polisiewoordvoerder, het bevestig dat die kinderbeskermingseenheid ‘n saak van aanranding met die doel om ernstig te beseer ondersoek.
Die baba se ouer broertjie of sussie is intussen verwyder en in tydelike veilige sorg geplaas terwyl die omstandighede ondersoek word.
Wendy Kaizer-Philander, Wes-Kaapse minister van maatskaplike ontwikke- ling, het die baba die afgelope Sondag (23 Augustus) in die hospitaal besoek om die kind se toestand te assesseer en seker te maak dat die nodige kinderbeskermingsprosesse gevolg word.
Volgens Kaizer-Philander sal die saak binnekort voor die hof gebring word. “Die hof sal dan die relevante inligting oorweeg en besluit oor die tydelike pla- sing van die kind terwyl ‘n omvattende ondersoek gedoen word. ‘n Maatskaplike werker sal onder meer familielede en ander relevante rolspelers ondervra en assesseer om vas te stel of die kind sorg en beskerming benodig.”
Die departement het gesê dat kinders, waar nodig, uit ‘n onveilige omgewing verwyder word om hul onmiddellike veiligheid te verseker terwyl ‘n ondersoek na vermeende mishandeling of verwaarlosing voortduur.
Duisende soortgelyke sake aangemeld
Die Saldanha-saak kom volgens Kaizer-Philander te midde van duisende berigte van vermeende kindermishandeling en -verwaarlosing in die Wes-Kaap.
Volgens die departement is 6 737 gevalle van verskeie vorme van kindermishandeling en -verwaarlosing gedurende die 2025/26-finansiële jaar aangemeld. Die meeste gevalle was van opsetlike verwaarlosing, gevolg deur seksuele misbruik en fisiese mishandeling.
Kaizer-Philander het gesê die beskerming van kinders is ’n gedeelde verantwoordelikheid en het ’n beroep op gemeenskappe gedoen om vermoedelike mishandeling of verwaarlosing aan te meld.
“Ons kinders kan nie in elke situasie vir hulleself praat nie, en daarom moet ons hul stem, hul skild en hul sterkste verdedigers wees,” het sy gesê.
Enigiemand wat bewus word van vermeende kinderabusie of -verwaarlosing kan dit by die naaste kantoor van maatskaplike ontwikkeling of die polisie aanmeld.
Die departement se tolvrye nommer is 0800 220 250 en die na-ure-nommer is 082 227 0478.



