Sers. Dean Adams verduidelik aan die gemeen­skapsaktivis Madelaine Goodall hoe die borgtog-aansoekproses werk. Foto: Murphy Roberts

‘Suurmonster’ sit steeds

Sers. Dean Adams verduidelik aan die gemeen­skapsaktivis Madelaine Goodall hoe die borgtog-aansoekproses werk. Foto: Murphy Roberts

Alvin “Lippe” Smith (38), die sogenaamde “suurmonster”, is Woensdag 8 April in die Atlantis-landdros­hof borgtog geweier.

Smith word daarvan beskuldig dat hy op Sondag 15 Maart’n bottel suur oor Shaneka Johnson (25) se kop uitgegooi het.

Die landdros het in sy uitspraak oor borgtog gesê dit is nie in die belang van geregtig­heid dat die verdagte op borg vrygelaat word nie. Hy het ook die verdediging se pleidooi – dat die verdagte lief is vir die hof en nie sal verdwyn nie – ver­werp.

Hy het verder gesê hy stem saam met die staat dat ‘n sterk saak teen Smith bestaan en die verdagte die hof belieg het deur aan te voer hy het nog nooit teen die gereg gebots nie.

Lippe het aan die hof gesê hy is “bang vir die tronk” en “verdien borgtog” omdat hy ‘n “saggeaarde en vredeliewende” mens is.

Hy het ook in sy borgaansoek getuig dat hy nog nooit teen die gereg gebots het nie.

Volgens die aanklaer is Lippe reeds in 2010 aan poging tot roof skuldig bevind.

Die aanklag is van aanranding met die doel om ernstig te beseer na poging tot moord verander.

Volgens die verdagte se getuienis het hy nie geweet daar is suur in die bottel nie. Hy het aan die hof verduidelik hy was glo onder die indruk dat daar water in is, aangesien baie mense met waterbotteltjies rondgeloop het.

Volgens die aanklaer het Lippe reeds die bottel suur gehad en presies geweet wat daarin is, aangesien hy die slag­offer vooraf gedreig het.

Dit gaan vir Shaneka Johnson ‘n lang pad na herstel in die Tygerberg-hospitaal wees.

Die ondersoekbeampte, sers. Dean Adams, het verlede Dinsdag (7 April) getuig die verdagte se lewe kan in gevaar wees omdat die gemeenskap woedend is oor sy beweerde daad.

Adams het ook die slagoffer se bese­rings in detail aan die hof verduidelik.

“Dit gaan ‘n lang pad na herstel wees, maar ek is positief,” het Johnson uit haar hospitaalbed in die brandeenheid in die Tygerberg-hospitaal gesê. Shaneka se lewe is meer as drie weke gelede in ‘n hel van pyn verander toe die suur oor haar uitgegooi is.

“Die verdagte het my beskuldig dat ek sy selfoon gesteel het,” het sy aan WeskusNuus verduidelik terwyl sy in erge pyn verkeer het.

“Ek het verduidelik dat ek nie sy selfoon geneem het nie, maar hy wou niks hoor nie. Ek het hom my selfoon gewys, maar hy het volgehou dat ek syne geneem het.”

“Die volgende oomblik het my kop begin brand en het ek die mees ondraaglike pyn ervaar,” vertel sy.

Volgens Shaneka is die een helfte van haar oor reeds afgesit en sy wag op ‘n reeks veloorplantingsoperasies om te red wat nog te redde is.

Shaneka Johnson het reeds verskeie operasies ondergaan en ‘n deel van haar oor is reeds verwyder.
NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 12 May 2026
    WeskusNuus E-Edition – 12 May 2026

Gift this article