Vrae ontstaan oor die vordering met die opgradering van die R708 tussen Marquard en Clocolan terwyl motoriste, inwoners en die landbougemeenskap onder swak padtoestande gebuk gaan.

‘n Onlangse terreinbesoek het getoon dat ‘n beperkte aantal werkers op die terrein werksaam was.

Die DA in Setsoto het gesê die beperkte arbeidsmag op die terrein wek kommer. Volgens die party stem die aantal werkers nie ooreen met wat vir ‘n padprojek van dié omvang verwag word nie.

Die party het gesê daar is berigte dat die projek se inwonende ingenieur bedank het. Die rede vir die bedanking is nie bekend nie.

Die R708 is ‘n vervoerroete wat Marquard, Clocolan en die omliggende landbougebiede met mekaar verbind. Inwoners, pendelaars, ondernemings en boere wag op die voltooiing van die opgraderingsprojek.

Motoriste en die landbougemeenskap wag steeds op die

voltooiing van die R708-opgradering.

Die DA het aangekondig dat formele vrae aan die Vrystaatse Wetgewer gerig sal word om vas te stel of die projek volgens skedule vorder, hoeveel geld aan die projek bestee is in verhouding tot die werk wat voltooi is, of toesig oor die projek gehou word en watter maatreëls ingestel is om vertragings te voorkom.

Die party het gesê hy sal die projek dophou en inwoners oor verdere verwikkelinge op hoogte hou.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article