Met minder as twee maande oor voordat die vyfde Ignite en Revive-fees begin, heers daar groot opgewondenheid in Kroonstad. Organiseerders is hard aan die werk om van 10 tot 13 September ’n onvergeetlike geloofsnaweek by die Kroonstad-Selgemeente aan te bied.
Die fees, wat gratis vir die publiek aangebied word, het oor die afgelope vyf jaar ontwikkel tot een van die grootste Christelike byeenkomste in die streek. Besoekers van oor Suid-Afrika heen word verwag om vier dae van aanbidding, lofprysing, inspirerende boodskappe en gesinsvermaak te beleef.
Volgens die feeskomitee het die eerste beplanningsvergadering reeds plaasgevind en verloop die voorbereidings uitstekend.
’n Hoogtepunt op vanjaar se program is The Call-sangkompetisie, waarvan die eindronde op Donderdagaand 10 September aangebied word. Twaalf finaliste sal meeding om as die eerste, tweede en derde plek wenners aangewys te word.
Die feesprogram het ’n indrukwekkende lys kunstenaars, musikante en sprekers. Onder die bekende name tel Riana Nel, Ilan van Staden, die VirAnder Band, DoDo, Dewald Gouws & Band, die The Call-wenners, die CRC Youth Band, Johnny Burger en Andriette Potgieter. Geestelike boodskappe sal deur ds. Pieter-Mohr van Niekerk gebring word, terwyl Janine van Niekerk, Nadine Voight, Marius Voight, Martin Botha, Charl Marais en Carien Ogilvie as seremoniemeesters sal optree.
Gesinne kan uitsien na ’n uitgebreide kindervermaakprogram wat ’n ATKV-poppekasopvoering, springkastele, boogskiet en verskeie ander aktiwiteite insluit.
Die fees begin Donderdagaand met die eindrondte van The Call, waarna die res van die naweek propvol inspirerende aanbiedings sal wees. Vrydagoggend word ’n spesiale program vir vroue deur Janine van Niekerk aangebied, terwyl die CRC Youth Band gedurende die middag optree. Die aand word geopen met ’n boodskap deur ds. Pieter-Mohr van Niekerk, gevolg deur optredes van die The Call-wenners, Ilan van Staden en Riana Nel.
Saterdag bied Johnny Burger en Dewald Gouws die oggendprogram vir mans aan, terwyl die ATKV se volwasse dramaproduksie die middagprogram aanbied word. Die aandprogram beloof om een van die hoogtepunte van die fees te wees wanneer die The Call-wenners, die VirAnder Band en DoDo die verhoog betree. Ilan van Staden tree as seremoniemeester (MC) op en open die aand met ’n spesiale boodskap.
Die fees word Sondag met ’n oggendbyeenkoms afgesluit. Charl Marais open die oggend as seremoniemeester (MC), waarna Dewald Gouws die gemeente in lofprysing sal lei. Dewald sal daarna die boodskap bring voordat die fees amptelik afgesluit word.
Volgens die organiseerders bly die doel van Ignite en Revive onveranderd: om mense deur aanbidding te verenig, geloof te versterk en die boodskap van hoop en verlossing met soveel moontlik mense te deel.
Met gratis toegang, ’n propvol program, bekende kunstenaars, heerlike kos, ’n gesellige teetuin en aktiwiteite vir die hele gesin, nooi die organiseerders die hele gemeenskap om vier dae van aanbidding, geloof, eenheid en hoop saam te beleef.




