Dodo is een van die vermaaklikheidskunstenaars op vanjaar se Ignite and Revive-fees.
Dodo is een van die vermaaklikheidskunstenaars op vanjaar se Ignite and Revive-fees. FOTO: Facebook

Jong gospelsangers, staan nader vir kompetisie op fees in Kroonstad

Dodo is een van die vermaaklikheidskunstenaars op vanjaar se Ignite and Revive-fees.
Dodo is een van die vermaaklikheidskunstenaars op vanjaar se Ignite and Revive-fees. FOTO: Facebook

In aanloop na die vyfde Ignite and Revive-fees is dit veral die gospelsangkompetisie wat groot belangstelling onder jong sangers en musiekliefhebbers ontlok.

Die fees, ‘n gratis viering van geloof, aanbidding en gemeenskap wat vanjaar van 10 tot 13 September by die Kroonstad-selgemeente gehou word, het gegroei tot een van die grootste Christelike byeenkomste in die Vrystaat.

Dit lok jaarliks besoekers van oor die provinsie heen.

Terwyl die fees bekend is vir sy inspirerende boodskappe, lofprysing, gesinsvermaak en bekende kunstenaars, val die kollig vanjaar vierkantig op die gospelsangkompetisie, The Call. Dit is hier waar jong talent die geleentheid kry om hul stem én geloof op ‘n groter verhoog uit te leef.

Die kompetisie is oop vir deelnemers tussen die ouderdom van 10 en 30 jaar en het ten doel om nuwe Christelike sangtalent te ontdek, te ontwikkel en blootstelling te gee.

Om deel te neem moet belangstellendes ‘n video van minstens een tot twee minute lank instuur waarin hulle ‘n Christelike of gospellied sing.

Inskrywing vir die kompetisie sluit op Saterdag 6 September. Volgens die organiseerders bied die kompetisie veel meer as net die geleentheid om ‘n titel te verwerf. Deelnemers kry die kans om voor groot gehore op te tree, waardevolle blootstelling te ontvang en hul talent aan die publiek bekend te stel.

Die algehele wenner sal boonop ‘n opnamekontrak met Rivers Music School losslaan en kontantpryse, geskenkbewyse, medaljes en sertifikate ontvang. Die wenner sal verder die geleentheid kry om saam met bekende Christelike kunstenaars op die fees op te tree.

Die 12 finaliste sal op Donderdag 10 September op die openingsaand van die fees hul talent op die verhoog ten toon stel. Uit dié groep sal die top drie aangewys word, wat daarna ook as deel van die Vrydag- en Saterdagaandprogram sal optree. Organiseerders beskryf The Call as die hartklop van die fees omdat dit jongmense aanmoedig om hul gawes te gebruik, hul geloof deur musiek uit te leef en ander deur hul talent te inspireer. Nog ‘n hoogtepunt van die fees is die betrokkenheid van Janine van Niekerk van Radio Kansel. Sy sal as aanbieder optree en boonop Vrydag die vroueoggend met die tema “Aangename Kennis Here” aanbied.

Besoekers kan verder uitsien na ‘n vol program met vermaak vir die hele gesin. Vir die duur van die naweek is ‘n kinderspeelplek met springkastele, ‘n pretpark, boogskiet en verskeie kosstalletjies oop.

Die aandprogram op Vrydag sluit in optredes deur wenners van The Call, bekroonde gospelsanger Ilan van Staden en sanger en liedjieskrywer Riana Nel, terwyl ds. Pieter-Mohr van Niekerk die boodskap sal bring.

Saterdag se verrigtinge behels optredes en bediening deur Johnny Burger en Dewald Gouws, asook ATKV-produksies vir kinders en volwassenes.

Die aand word afgesluit met optredes deur die wenners van The Call, Dodo en VirAnder Band, terwyl Van Staden as seremoniemeester sal optree.

Die fees word Sondagoggend met ‘n lofprysing-en-aanbiddingsdiens onder leiding van Dewald Gouws en Band afgesluit, waarna hy ook die Woord sal bedien. Toegang tot die fees is gratis en geen voorafregistrasie of bespreking word vereis nie. Belangstellendes wat aan die gospelsangkompetisie wil deelneem, kan Jason du Plessis by 076 455 5403 kontak of ‘n e-pos stuur na riversmusicco@gmail.com.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article