‘n Geleentheid wat daarop gemik was om mense deur geloof, musiek en samesyn byeen te bring het mettertyd gegroei tot ‘n betekenisvolle geestelike byeenkoms in Kroonstad.
Die Ignite and Revive– Christelike fees se kernboodskap – om harte aan te raak, geloof te versterk en siele vir God te wen – het vanjaar weer sentraal gestaan. Talle feesgangers het die teenwoordigheid van die Heilige Gees as tasbaar ervaar.
Die fees, waartoe toegang gratis was, is van Donderdag 10 September tot Sondag aangebied, by die Kroonstad-selgemeente. Oor vier dae is feesgangers met ‘n uiteenlopende program van musiek, inspirerende booskappe van sprekers, optredes en geleenthede vir samesyn vermaak en geestelik verryk. Bekende kunstenaars soos Riana Nel, Dodo en Ilan van Staden het die verhoog gedeel en die gehoor met hul musiek begeester.

Van Staden het die fees ook na die klaskamer geneem toe hy Donderdagoggend die Hoërskool Salomon Senekal bedien het; en Vrydagoggend Trio Primêr en die Hoërskool Trio. Sy boodskap van geloof, hoop en inspirasie het jongmense bereik en hulle met meer as net musiek laat kennis maak.
Een van die feeshoogtepunte was The Call, die fees se eerste sangkompetisie, wat Donderdagaand aangebied is. Hierdeur het drie plaaslike sangers ook geleentheid gekry om hul talent op die groot verhoog te vertoon. Bokamaso Kgatle, Olerato Moloi en Kamohelo Malema het hulle uitstekend van hul taak gekwyt en het Vrydag en Saterdagaand se vertonings geopen.

Die ATKV het, soos verlede jaar, ook vanjaar produksies na die fees gebring. Dagmaan deur Maretha Maartens het ‘n sterk en betekenisvolle boodskap oorgedra.
‘n Verskeidenheid sprekers, wat Janine van Niekerk, Johnny Burger, Dewald Gouws insluit, het die feesgangers toegespreek. Hul persoonlike stories, ervarings en insigte het feesgangers aangemoedig om vanuit ‘n ander perspektief na die lewe te kyk.
Die getuienisse het talle mense tot nadenke gestem en ander weer geïnspireer.
LEES OOK: Yonder Hartsfees: Pret-aktiwiteite en feestelike atmosfeer tot Sondag in Kimberley
Die feesprogram het benewens die geestelike en kulturele aanbiedinge ook ruim geleentheid vir samesyn gebied.
Feesgangers kon saamkuier en ‘n verskeidenheid kos en drinkgoed geniet, wat tot ‘n warm en gesellige atmosfeer bygedra het.

Die geestelike doel van die fees het egter deurgaans voorop gestaan.
Die organiseerders het hul opregte dank uitgespreek teenoor al die borge en ondersteuners wat gehelp het om die gratis fees moontlik te maak.
“Dit is wonderlik om op hierdie manier ook geestelik ‘n verskil in die Kroonstad-gemeenskap te kan maak. Red siele en red só ‘n dorp en gemeenskap,” het die organiseerders gesê.




You must be logged in to post a comment.