Verskeie leerders aan die Hoërskool Trio in Kroonstad het goed presteer in die jaarlikse boogskietkompetisie van die Ignite and Revive- Christelike fees.
Die kompetisie is op Saterdag 12 September as deel van dié fees in Kroonstad aangebied.
Die grootste uitblinker was Danie Theron, ‘n gr. 9-leerder, wat met ‘n indrukwekkende telling van 286 punte algeheel eerste is. Hy is ook eerste in die gr. 9-afdeling en boonop eerste onder die hoërskoolseuns.
Danie se algehele oorwinning was die hoogtepunt van Trio se dag.
LEES OOK: Jonges van Kroonstad in die kol met boë toe hulle kompetisie aandurf
Leané Olivier het Trio se sukses in die gr. 10-afdeling voortgesit deur 263 punte aan te teken. Sy is daarmee derde onder die gr. 10-deelnemers en derde onder die hoërskoolmeisies.
Haar gr. 10-spanmaat, Leanu de Munnik-Labuschagne, het eweneens sterk vertoon en 258 punte aangeteken.
In die gr. 8-afdeling is Burhan Coetzee met 227 punte eerste. Reané Hanekom is met 210 punte derde in dieselfde ouderdomsgroep.
Marione Jansen van Rensburg, wat in gr. 11 is, het 246 punte aangeteken en Trio se goeie vertoning versterk.



