HEILBRON`- Volgens bewerings moet boere en lede van die gemeenskap gereeld inspring wanneer ernstige brande uitbreek. Nova News het intussen ’n formele navraag aan die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit gerig oor die huidige stand van sake, maar wag steeds op terugvoer.
Volgens raadslid Robert Ferendale van die Demokratiese Alliansie (DA) in die Ngwathe Munisipaliteit neem die gevaar van veld- en huisbrande daagliks toe namate die winter vorder. Hy sê Heilbron het nou geen operasionele brandweerwa nie. Dit wek ernstige kommer oor die veiligheid van inwoners en hul eiendom.
Hoewel die dorp in die verlede ‘n volwaardige brandweerwa gehad het, word brande deesdae slegs met ’n brandbestrydingsbakkie en beperkte toerusting geblus. Onlangs het twee strukture, ‘n houthuis en tydelike woning afgebrand nadat die brandweer nie die brande doeltreffend kon bestry nie.
Die Demokratiese Alliansie het intussen aangekondig dat die party skriftelik by die Ngwathe Munisipaliteit aandring op die onmiddellike ontplooiing van ’n brandweerwa vir Heilbron. Die party eis ook ’n volledige verslag oor die munisipaliteit se onvermoë om voldoende brandweerdienste aan die gemeenskap te lewer.
Die party sê inwoners het onlangs verliese gely met strukture wat afgebrand het weens ‘n tekort aan ‘n bandweerwa.
“Die gebrek aan ’n funksionerende brandweerdiens het skerp kritiek uitgelok. Vrae word gevra waarom geen alternatiewe voorsorgmaatreëls ingestel is voordat die brandweerwa vir herstelwerk gestuur is nie, en hoe ’n hele dorp sonder voldoende brandbeskerming gelaat kon word. Inwoners meen die huidige situasie stel lewens en eiendom ernstig in gevaar, veral gedurende die wintermaande wanneer droë plantegroei en lae temperature die risiko van verwoestende brande Verhoog,” Ferendale.
Die party sê hulle doen ‘n ernstige beroep op die Ngwathe Munisipaliteit om sonder verwyl ’n volwaardige brandweerwa na Heilbron te ontplooi en volledig rekenskap te gee oor hoekom die dorp vir dekades sonder ’n doeltreffende brandweerdiens gelaat is.





