Die aantal bevestigde bek-en-klouseergevalle in die Vrystaat het tot 770 gestyg nadat ses gevalle in die provinsie bevestig is.
Die jongste gevalle is in die Kroonstad-staatsveeartsenykundige gebied, Bloemfontein en Welkom aangeteken. Een geval is in Kroonstad bevestig, drie in Bloemfontein en twee in Welkom.
Volgens die Vrystaatse departement van landbou, landelike ontwikkeling en omgewingsake is 551 van die 770 bevestigde gevalle afgehandel nadat die betrokke eiendomme aan die vereistes vir die opheffing van kwarantyn voldoen het. Altesaam 219 gevalle bly onder kwarantyn.
Kroonstad het met 125 bevestigde gevalle die hoogste aantal gevalle in die provinsie. Heilbron volg met 96, terwyl Frankfort 81 gevalle het. Bethlehem het 73 bevestigde gevalle, Sasolburg 64 en Welkom 51.
Die uiteensetting van bevestigde gevalle per staatsveeartsenykundige gebied lyk soos volg:
Kroonstad – Moqhaka: 125 gevalle
Heilbron – Ngwathe: 96 gevalle
Frankfort – Mafube: 81 gevalle
Bethlehem – Dihlabeng en Nketoana: 73 gevalle
Sasolburg – Metsimaholo: 64 gevalle
Welkom – Matjhabeng en Naledi: 51 gevalle
Boshoff – Tokologo: 52 gevalle
Ladybrand – Mantsopa en Setsoto: 46 gevalle
Warden – Phumelela: 45 gevalle
Bultfontein – Tswelopele en Masilonyana: 35 gevalle
Qwa-Qwa – Maluti-a-Phofung: 29 gevalle
Bloemfontein – Mangaung Metro: 28 gevalle
Fauresmith – Kopanong en Letsemeng: 24 gevalle
Smithfield – Mohokare en Mangaung: 18 gevalle
Thaba Nchu – Mangaung Metro: twee gevalle
Die departement se jongste kennisgewing dui daarop dat gevalle in 19 plaaslike munisipaliteite bevestig is.
As deel van die nasionale risiko-gebaseerde inentingstrategie is 1 485 340 beeste ingeënt met die Biogenesis Bago- en Dollvet-entstowwe. Inenting word toegespits op besmette eiendomme, omliggende plase en hoërisikogebiede wat deur veeartsenykundige risiko-assesserings geïdentifiseer word.
Die departement het gewaarsku dat nie alle inentingsaansoeke onmiddellik gehanteer kan word nie weens beperkte entstofbeskikbaarheid en die behoefte om hoërisikogebiede eerste te prioritiseer. Boere word aangemoedig om aansoeke vir inenting in te dien sodat toekomstige entstofverspreiding en inentingsveldtogte beplan kan word.
Die departement het ook sy kommer uitgespreek oor vee-eienaars wat vermoedelik nie alle gevalle van bek-en-klouseer betyds aanmeld nie. Enige vermoedelike geval moet dieselfde dag by die naaste staatsveearts of dieregesondheidstegnikus aangemeld word.
Vee-eienaars word herinner om besmette diere onmiddellik te isoleer, die beweging van gesplete-hoefdiere en moontlik besmette materiaal te beperk en streng biosekuriteitsmaatreëls toe te pas.




