Noordkaap Bulletin

TWYFELHOEKIE | Hou tog bietjie uit, ‘n mens is nie so trietsig nie

Die plaas Twyfelhoek se hek.
Die pad na Twyfelhoek. FOTO: Verskaf
Noordkaap Bulletin

TWYFELHOEKIE | Hou tog bietjie uit, ‘n mens is nie so trietsig nie


Later in my lewe kon ek nie onthou of dit oom Daan of Ouma en Oupa Plaas was wat dit eerste vir my geleer het nie.

Hulle al drie het wel verseker dat ek dit aanleer en inoefen. Eintlik was dit meer ‘n leefwyse as ‘n lewensles.

Die kern van hierdie leefwyse was eenvoudig: ‘n Mens is nie so trietsig nie.

Hou so ‘n bietjie uit. ‘n Mens gooi nie so maklik tou op nie.

Jy kan altyd nog ‘n bietjie. Alles gaan nie oor jou nie.

As jy moeg is, hoef almal rondom jou nie moeg te wees nie; as jy honger is, hoef jy nie almal se etenspatroon te laat aanpas nie.

Waar kom ons daaraan dat almal hulle moet skik volgens jou?

Ons word deesdae so oorweldig deur die behoefte van die individu, ons vergeet soms dat ons in ‘n leefwêreld met ander mense saamleef.

Alles gaan nie oor wanneer jy honger of moeg of dors is nie, of wanneer jy voel dit is nou geleentheid om te dit of te dat nie.

Eintlik is die beginsel baie eenvoudig: Jy het geleer om ander mense in ag te neem of jy het nie.

As jy dit aangeleer het, kom dit vir jou vanselfsprekend om nie altyd jouself en jou behoeftes voorop te stel nie. As jy dit nie aangeleer het nie is jy ongelukkig ‘n moeilike mens om mee saam te leef.

Dan begin die lewe draai om jou tyd en wanneer jy wil eet en wanneer jy wil werk en wanneer jy besluit wanneer is wat hoe en waar.

En laat ons maar eerlik wees. Elke mens hou van mense wat ‘n ander mens se behoeftes in ag neem.

Daardie mense wat begin en eindig by hulleself is regtig meestal moeilike mense om mee saam te leef.

Natuurlik pas ‘n mens aan en akkommodeer ‘n mens – hou maar ‘n bietjie uit, ‘n mens is nie so trietsig nie en neem tog ander mense in ag.

  • Lees nog rubrieke en meningstukke hier.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article