POTPOURRI | Ja nee, kort sinsnedes het soveel verskillende betekenisse

Karin Muller
Karin Muller. FOTO: Verskaf

POTPOURRI | Ja nee, kort sinsnedes het soveel verskillende betekenisse


Die kokketiel, Pikkie, is elke oggend in sy hokkie aan die groot tak van die lukwartboom in die tuin opgehang en elke aand op die kombuiskas neergesit.

Later in die aand is die hokkie met ‘n kombersie toegegooi.

Op hierdie spesifieke middag het ‘n wolkbreuk verwoesting gesaai. Die kokketielhokkie is uit die boom tot op die grond geslinger en die deurtjie van die hok het oopgegaan. Pikkie se vlerk was geknip, maar selfs al sou hy kon vlieg, sou die gietende reën dit onmoontlik maak.

Ongeveer ‘n halfuur nadat die verwoestende reënbui uitgesak het, het die eienaar onthou dat Pikkie nog in die lukwartboom hang. Hy het die agterdeur oopgemaak om uit te gaan.

Pikkie het op die besem se steel gesit wat skuins teen die muur by die agterdeur gestaan het. Hy het deur die gietende reën huis toe geloop.

Toe sy eienaar sy nat lyfie teen hom vasdruk, was Pikkie se enigste woorde: “Hoor hier?”

‘n Bekende Afrikaanse skrywer het op die plaas met die naam Ja-Nee gebly.

Daar is sinsnedes in Afrikaans wat moeilik in ander tale beskryf of vertaal kan word.

Die kleuter kruip onderdeur die tafel. Probeer dit maklik en korrek in ‘n ander taal vertaal. In die meeste tale gaan die naaste weergawe dalk wees dat die kleuter onder die tafel kruip.

Die meeste tale is uniek. Afrikaans is nie die uitsondering nie. Daar is wel begrippe wat baie uniek aan Afrikaans is.

Afrikaanssprekendes kan met min woorde baie sê. As iemand sy wenkbroue lig en sê: “Hoor hier?”, word die boodskap baie duidelik en sonder verdere verduideliking oorgedra. As iemand in die vertes intuur, sug en sê: “Ja-Nee”, dan spreek dit boekdele.

Watter unieke Afrikaanse sinsnedes gebruik jy gereeld waar baie meer agter ‘n paar woorde skuil?

  • Lees nog rubrieke en meningstukke hier.
NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article