‘n Vrou het ernstige beserings opgedoen nadat die vragmotor waarin sy ‘n passasier was, Sondagmiddag op die N12 in die omgewing van Modderrivier en Ritchie in die Noord-Kaap omgeslaan het.
Dit is tans onbekend of haar baba, wat ook ‘n passasier was, beserings opgedoen het. Die manlike vragmotorbestuurder het geringe beserings opgedoen.
Kolonel Cherelle Ehlers, polisiewoordvoerder, sê die polisie in Modderrivier ondersoek ‘n saak van roekelose en nalatige bestuur ná die ongeluk wat Sondag 28 Junie omstreeks 14:00 gebeur het. Na bewering het die vragmotorbestuurder beheer oor die vragmotor verloor wat veroorsaak het dat dit omslaan.
In ‘n video wat op sosiale media versprei is, sê die persoon wat die video geneem het die “seerste” van die ongeluk is die vrou se arm wat onder die omgeslane vragmotor se kajuit vasgeknel is.
Die vrou is na ‘n plaaslike hospitaal afgevoer, en haar baba is saam met haar geneem. Meer inligting is op die stadium nie bekend nie.
Die ondersoek duur voort.
LEES OOK: Three overseas tourists rescued after near-drowning incident at Kenton-on-Sea



