Herstelstryd duur voort ná ernstige motorbotsing en 18 operasies

Die voertuig waarin Jolandy Dimond ernstig in Mei 2022 beseer is.
Die voertuig waarin Jolandy Dimond ernstig in Mei 2022 beseer is. FOTO: Verskaf

Herstelstryd duur voort ná ernstige motorbotsing en 18 operasies


KIMBERLEY – Vier jaar nadat ‘n ernstige kop-aan-kop-motorbotsing op 20 Mei 2022 haar lewe verander het, wag Jolandy Dimond (49) steeds op verdere operasies.

Sedert die ongeluk in McDougalstraat, Kimberley, het sy reeds 18 operasies ondergaan en altesaam 24 weke tydens verskeie hospitalisasies by die Lenmed-hospitaal en later Mediclinic Gariep deurgebring. Weens ernstige beserings aan haar regterbeen is sy steeds op krukke aangewese.

Dimond was die bestuurder van ‘n Volkswagen Citi Golf en was byna ‘n uur lank in die verwronge wrak vasgekeer voordat reddingswerkers haar met reddingskake bevry het.

Die gebeure van daardie dag is steeds helder in haar geheue.

Jolandy Dimond tydens haar herstel in die hospitaal.
Jolandy Dimond tydens haar herstel in die hospitaal. Sy het reeds 18 operasies ondergaan en wag op verdere behandeling vier jaar ná die ongeluk. FOTO: Verskaf

“My voet was agter die versnellerpedaal vasgevang. Die pyn was oorweldigend en daar was onmiddellik die besef dat my lewe nooit weer dieselfde sou wees nie,” vertel sy.

Tydens die botsing het sy ‘n gebreekte borsbeen, gebreekte ribbes, ‘n ontwrigte regterheup en ernstige frakture aan haar regterbeen opgedoen. Haar been het op vier plekke tussen haar knie en voet gebreek en bly een van die grootste struikelblokke op haar pad na herstel. Volgens Dimond het selfs asemhaal geweldige inspanning geverg.

Die beserings het haar van haar onafhanklikheid ontneem.

“Om van die bed na die badkamer of my rolstoel te beweeg, het soms byna 45 minute geneem. Ek kon nie stort of eenvoudige dinge op my eie doen nie. Daar was dae wat ek uit frustrasie gehuil het omdat ek so hulpeloos gevoel het.”

Sy sê die emosionele herstel was net so moeilik soos die fisieke. “Dit was moeilik om te aanvaar dat die ander bestuurder feitlik ongedeerd van die ongeluk weggestap het terwyl ek jare lank met die gevolge daarvan moet saamleef.”

Dimond se herstel is verder bemoeilik omdat sy met gedislokeerde heupe gebore is en reeds op 30 ‘n heupvervanging moes ondergaan.

Nadat een van haar wonde septies geraak het, het sy akute nierversaking ontwikkel en was vier dae lank in ‘n koma.

Jare se afhanklikheid van krukke het later ook tot ‘n skoueroperasie gelei. Haar rehabilitasie duur steeds voort.

Lewe onherroeplik verander

Haar man, Jonathan Dimond (44), sê die ongeluk het hul lewe onherroeplik verander. Omdat hy aan mitochondriale miopatie ly, ‘n toestand wat spierkrag beperk, kon hy nie die fisieke ondersteuning bied wat haar herstel vereis het nie.

Dimond se 80-jarige ma het ‘n deurslaggewende rol gespeel en haar deur jare van operasies, hospitalisasies en rehabilitasie gehelp. Volgens Jonathan is dit steeds ‘n lang herstelpad. “Sy hou aan veg. Sy weier om die handdoek in te gooi.”

Ongeag die talle terugslae werk Dimond steeds van die huis af as persoonlike assistent by PricewaterhouseCoopers (PwC) en bly sy toegewyd aan haar werk en rehabilitasie. “Ek leef elke dag met pyn, maar ek wil nie opgee nie. Ek sal nooit.”

Vier jaar ná die ongeluk wag Dimond steeds op operasies om haar voet te herbou en ‘n beskadigde knieligament te vervang. Dit kan eers gedoen word ná haar liggaam grootliks herstel het ná die baie operasies in vier jaar. Haar grootste wens is om weer onafhanklik te wees.

“Ek wil net weer sonder krukke kan loop en die dinge doen wat ek voor die ongeluk as vanselfsprekend aanvaar het. Ek wil saam met my hondekind, Mientjie, op die gras speel.”

  • Charlotte Bruce is ‘n joernalistiekstudent.

LEES OOK: Parents’ greatest hope: That Jude will find her voice

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article