KAKAMAS – ‘n Statige “ou dame” van Kakamas het onlangs haar 90ste bestaansjaar gevier, en met dié viering is Ouma Cillie se herkoms en storie weer opgediep en blinkgevryf.
Ouma Cillie, wat op ‘n stadium vir R1 verkoop is, se verhaal begin as ‘n gemeenskapshospitaal en strek oor nege dekades tot waar dit vandag woonstelle vir selfversorgende bejaardes is.
Die geskiedenis van Ouma Cillie-woonstelle strek so ver terug soos die begin van Kakamas wat ontstaan het met die vestiging van die arbeidskolonie deur die NG kerk in die laat 1800’s langs die Oranjerivier.

Hierdie eerste inwoners het die moeilike taak gehad om kanale met hande, pikke en skoppe uit te kap om water na die droë lande te bring. Die besproeiingskanaal is vandag nog een van die langste handgegraafde kanale ter wêreld en het die grondslag vir die ontwikkeling van Kakamas as landbougemeenskap gelê.
Vir baie jare het Kakamas geen dokter of hospitaal gehad nie. Met ernstige siekte moes lang afstande na Upington en selfs verder afgelê word.
Gedurende hierdie tyd het ouma Chrissie Viviers uitgestaan. Sonder formele opleiding het sy as verpleegster, vroedvrou en versorger opgetree. Volgens oorlewering het sy met die geboorte van honderde babas gehelp, siekes versorg, siekes tydens die Spaanse Griep van 1918 behandel, en bedags en selfs snags gereis om hulp te verleen.
Vir baie inwoners was sy die eerste “verpleegster” wat hulle ooit geken het.
Gemeenskap befonds hospitaal
Teen die laat 1930’s het die gemeenskap besef dat ‘n permanente hospitaal nodig was en die NG kerk en plaaslike inwoners het geld hiervoor ingesamel.
Een van die eerste amptelike verwysings is na die “Ouma Cillie-hospitaalmeubelfonds” en dui aan dat die gemeenskap self die hospitaal met beddens, matrasse en mediese toerusting toegerus het.
Ouma Cillie is vernoem na die eggenote van die voorsitter van die Kakamas Arbeidskolonie, PJ Cillie. Bekend as “Ouma Cillie” het sy destyds ‘n skenking van £800 gemaak om met die bou van die hospitaal te begin. Die hospitaal het uiteindelik £3 106 gekos, en het 14 beddens gehad met ‘n matrone, twee algemene verpleegsters en drie assistent-verpleegsters as personeel.
Ouma Cillie is op 30 Julie 1936 ingewy.

Besonder besige hospitaal
Gedurende die 1940’s en 1950’s het Ouma Cillie tot ‘n volwaardige plattelandse hospitaal gegroei. Hier is babas in die wêreld verwelkom, operasies uitgevoer, siekes gesond gemaak, en het mense ook hul laaste dae deurgebring. Dokters wat destyds diens gedoen het, sluit onder andere drs. Du Toit, Joubert, Wessels en Grundling in.
Volgens verslae is daar van 1949 tot 1952 ‘n totaal van 307 babas gebore, 541 pasiënte opgeneem, en 287 operasies uitgevoer. Vir ‘n klein dorpie soos Kakamas was dit ‘n besonder besige hospitaal.
Nadat die staatshospitaal in Kakamas gebou is, is Ouma Cillie aan die munisipaliteit geskenk in die era toe ‘n meneer Hannes Truter die dorpsklerk was. Die dorpsraad het besluit om dit in woonstelle te omskep. Frik van Schalkwyk as projekbestuurder het die beplanning vir veranderings en omskepping gedoen en só is dié hospitaal in 11 woonstelle omskep.
Later is die perseel en geboue vir R1 (een rand) aan die NG kerk verkoop.
Volgens inligting is daar min of meer in 1991 besluit om die gebou in woonstelle om te skakel, en in 1992 is dit begin bewoon.

Vir baie inwoners was Ouma Cillie meer as ‘n hospitaal, en is dié gebou deel van herinneringe wat in stories voortleef. Mense heg sentiment aan dié gebou weens die ryk geskiedenis en wat dit as hospitaal vir inwoners en omliggende gebiede beteken het.
Ouma Cillie deel van Kokerboom-Oord
Hoewel Ouma Cillie aanvanklik nie net vir bejaardes bedoel was nie, word dit vandag slegs deur bejaardes bewoon.
Ouma Cillie funksioneer as deel van Kokerboom-Oord tehuis vir bejaardes, en alle administratiewe take word deur die oord behartig. Ouma Cillie word op dié tehuis se inwonerskomitee verteenwoordig en een van die Kokerboom-Oord Trust se lede is met Ouma Cillie gemoeid.
Meestal, wanneer inwoners van Ouma Cillie verswak, word hulle na Kokerboom-Oord verskuif waar hulle 24-uur versorging kry.
Deurentyd word gepoog om Ouma Cillie se inwoners, so ver as wat dit finansieël haalbaar is, ‘n plek te bied wat die lewe vir hulle makliker maak. Tans word planne beraam om geld te genereer om opknappingswerk aan dié statige ou dame te doen.
- Vir meer oor Kokerboom-Oord of Ouma Cillie, skryf aan kokerboomoord1@gmail.com of skakel 054 431 0736.







