Die adjunkminister van water en sanitasie, Sello Seitlholo, het die Kai !Garib-plaaslike munisipaliteit, wat onder meer Keimoes, Kakamas en Kenhardt insluit, Sondag skerp in ‘n verklaring gekritiseer vir sy voortgesette versuim om dringende regstellende stappe te neem om die ineenstorting van water- en sanitasiedienste in die streek te stuit.
Tydens ‘n besoek aan die munisipaliteit op 29 Mei het Seitlholo gesien hoe dienslewering tot ‘n “kritiese toestand” versleg het, ondanks herhaalde waarskuwings en die nie-nakoming van direktiewe wat deur sy departement uitgereik is. Dit hou ernstige gevare vir openbare gesondheid en die omgewing in.

Die jongste regulatoriese verslae skilder ‘n donker prentjie, sê hy.
“Die munisipaliteit se Blou Druppel-verslag toon die watergehalte het tot 16,20% gedaal, vergeleke met 71% in 2014.
“Selfs meer kommerwekkend is die Groen Druppel-telling vir afvalwater, wat tot ‘n skamele 0,3% getuimel het, met Keimoes en Kenhardt wat albei 0,0% behaal het. Die Vredesvallei-aanleg is vir meer as drie jaar buite werking.”
LEES OOK: Vullisterreine in Noord-Kaapse dorpe ‘haglik’
Seitlholo het die munisipaliteit beveel om teen die einde van Junie 2026 ‘n volledige regstellende aksieplan in te dien wat spesifieke tydlyne vir die herstel van kritieke infrastruktuur uiteensit.
“Die werklikheid is dat dié munisipaliteit gesamentlike ingrypings van verskeie departemente benodig,” meen hy. Kai !Garib is veronderstel om drinkwater te verskaf en afvalwaterbestuur vir die dorpe te doen.
Munisipaliteit het ‘geskiedenis van nie-nakoming’
Die hoofwaterbron is die Oranjerivier en ‘n kanaal wat deur die Kakamas Watergebruikersvereniging bestuur word. Water in die kanaal vloei vanaf ‘n keerwal langs die Oranjerivier na Marchand, en word vir die besproeiing van landbouaktiwiteite, veral die wingerde in en om Kakamas, gebruik.

Die minister sê die munisipaliteit het ‘n geskiedenis van nie-nakoming wat betref sy water- en sanitasiedienste, en het min gedoen om die situasie reg te stel. Die munisipaliteit versuim om redelike maatreëls te tref om die voortdurende oorloop van riool uit mangate, wanfunksionele pompstasies, stormwater- en oksidasiedamme in die dorpe en nedersettings in sy verantwoordelikheidsgebied te voorkom.
LEES OOK: Keimoes hoop vir rioolvrye strate ná besoek
Vroeër vanjaar het die Menseregtekommissie (MRK) in ‘n verslag wat hy oor die toestand van Noord-Kaapse munisipaliteite uitgereik het, aanbeveel dat die LUR vir plaaslike regering sy magte gebruik om die bewerings van bedrog binne dié munisipaliteit formeel te ondersoek.
In die betrokke verslag sê die MRK Kai !Garib is in “duidelike geldelike nood”.
Die munisipaliteit sukkel nie net om gekwalifiseerde finansiële personeel te lok en te behou nie, maar het ook R787 miljoen in ongemagtigde, onreëlmatige, vrugtelose en verspilde besteding aangegaan. Daarby neem dit die munisipaliteit gemiddeld 744 dae om sy krediteure te betaal.
Die MRK het in sy bevindinge die impak van swak dienslewering op inwoners benadruk. Omdat afvalwaterstelsels nie funksioneer nie, word rioolafval oor lang afstande met vragmotors vervoer teen ‘n koste van meer as R12 miljoen per jaar.
Die gebrek aan chemikalieë en tegniese kundigheid lei tot die verskaffing van onvoldoende behandelde afvalwater en gereelde rioolstortings wat plaaslike waterweë besoedel.
Inwoners en plaaslike boere moes al by verskeie geleenthede op eie koste water verskaf omdat die munisipaliteit nie in mense se basiese behoeftes kon voorsien nie.
‘Kommerwekkende getuienis’ na Valke verwys
Daar is ook kommerwekkende getuienis van interne sabotasie, finansiële wangedrag en bedrog, waarvan sommige sake reeds na die Valke vir ondersoek verwys is.
Die DA het vroeër vanjaar in verklarings gewaarsku dat dié munisipaliteit ‘n provinsiale krisis geword het. Fawzia Rhoda, provinsiale woordvoerder oor finansies, sê finansiële wanbestuur is aan die orde van die dag
“Kai !Garib bestee jaarliks R15,6 miljoen om voertuie te huur, in plaas daarvan om in volhoubare, langtermynoplossings vir infrastruktuur te belê,” sê sy.






