KIMBERLEY – Met sy heel eerste deelname aan ‘n kragoptelkompetisie het die 16-jarige Ruben Krüger van Kimberley ‘n goue medalje verwerf én vir deelname aan die Suid-Afrikaanse kampioenskappe gekwalifiseer.
Ruben het hierdie prestasie behaal nadat hy in Desember 2025 vir die eerste keer in ‘n gimnasium ingestap het om kragoptel aan te pak.

Behalwe dié goue medalje wat hy in Februarie tydens die Noordwes Classic and Equipped Powerlifting Championships in Fochville verwerf het, het hy in Maart in Johannesburg ‘n silwermedalje tydens die SA Classic Powerlifting Championships ontvang. Op 8 Julie, by die Asia Pacific African Powerlifting and Bench Press Championships in Potchefstroom, het hy ‘n bronsmedalje verdien. Hy neem tans in die sub-junior 66 kg-kategorie deel.
Met sy prestasie op internasionale vlak het Ruben boonop sy junior Protea-kleure verwerf, en is hy as reserwe vir die World Junior and Sub-Junior Powerlifting Championships aangewys wat later vanjaar by Sun City plaasvind.
Mik na vele prestasies
Ruben vertel hy en sy pa het in Desember besluit om saam by die Pirates-gimnasium te begin oefen. Sy pa, AJ Kruger, het in sy jonger dae aan kragoptel- en Strongman-kompetisies deelgeneem.
Hoewel Ruben, ‘n graad 10-leerder aan die Hoërskool Diamantveld, al telkens in ‘n gimnasium geoefen het, was dit ter bevordering van sy rugbyvaardighede.
Toe hy en sy pa saam in die gimnasium begin oefen het, het sy pa hom baie met tegnieke gehelp en om sy potensiaal met die swaar ysters raak te sien.

Kragoptel is ‘n kragsport waarin atlete hul maksimum krag deur middel van drie kernbewegings toets: hurksit (squat), bankdruk (bench press) en doodoptel (deadlift). Deelnemers probeer om die swaarste moontlike gewig vir ‘n enkele herhaling in elke beweging op te tel. Kragoptel is nie dieselfde as gewigoptel nie.
Ruben pas sy kragoptel-gimnasiumsessies en -kompetisies tussen sy skoolwerk en rugby-oefeninge in. Hy het egter onlangs tydens ‘n rugbywedstryd ligamente in sy skouer geskeur en weens dit mag hy nou vir vier tot ses weke nie oefen nie.
Vir Ruben is sy pa ‘n rolmodel en sal hy graag ten minste sy pa se prestasies wil ewenaar.
Met sy laaste kragoptelkompetisie het Ruben ‘n totaal van 410 kg opgetel: 170 kg “deadlift”, 90 kg “bench press” en 150 kg “squad”.
Vir die korttermyn wil hy ‘n goue medalje op die Suid-Afrikaanse kampioenskappe verwerf, en op die langtermyn op die wêreldverhoog verskyn.
Intussen, soos hy vertel, leer hy dat elke uitdaging jou sterker maak, en oefen hy saam met sy pa en “maak memories”.





