Die vrouerugbyspan van die Sol Plaatje-universiteit (SPU) is die wenner van die eerste AVBOB Griekwas-vrouerugby-superliga nadat hy die span van die Sishen-rugbyklub met 50 – 0 geklop het.
In dié eindstryd op 13 Junie in die Suzuki-stadion in Kimberley het die SPU van die begin af die veld oorheers, maar Sishen het alles ingesit om dié meer ervare span in toom te hou.
In die stryd om die derde plek het die Undisputed Divas van Kenhardt die bronsmedaljes voor die neus van die Colesberg Sinegugu Queens weggeraap, met ‘n eindtelling van 38 – 27.



Die Proteas van Nieuwoudtsville en die Rivertons She-Wolves het op dié dag as ontwikkelingspanne deelgeneem. Hiertydens het die Proteas die She-Wolves se tande met ‘n telling van 95 – 5 getrek.
Met die eindwedstryde van dié superliga afgehandel, het die vier spanne amptelik die veld vir vroue-rugbyklubs in die Noord-Kaap geopen.
LEES OOK: Rugby van vroeg deel van haar lewe – gereed vir uitdaging as assistent-afrigter
Hulle het in April geskiedenis in die Noord-Kaap gemaak met die intreewydstryde van die liga. Dit het gekom ná die Griekwaland-Wes Rugbyunie (GWRU) se goedkeuring van die klubs as volwaardige, funksionerende vrouerugbyklubs.
Hiervolgens sal hulle ook ondersteuning van die unie ontvang.
Wil vroue op alle vlakke van rugby sien
Monté Engelbrecht, GWRU-president, sê die unie sal graag ‘n veelvlakkige benadering vir vrouerugby in die Noord-Kaap wil sien waar vroue nie net aan rugby deelneem nie, maar dat vroue ook beskikbaar sal wees en opgelei word as skeidsregters, afrigters, en op alle vlakke rakende die bestuur en speel van klubrugby.
Engelbrecht sê agt spanne in dié liga sal ideaal wees, en die doelwit is om binne enkele jare die eerste gekontrakteerde vrouespelers vir die Griekwas te hê.
Die wedstryde op 13 Junie het ook as amptelike proewe vir die Griekwas-vrouespan gedien, waarvan die name later bekend gemaak sal word.












You must be logged in to post a comment.