KIMBERELY – Volgens die jongste amptelike misdaadstatistiek vir die Noord-Kaap het seksuele misdrywe in die provinsie skerp toegeneem, wat veral vroue en kinders raak. Onlangse uitsprake in Noord-Kaapse howe dui daarop dat geen plek in dié provinsie te klein vir sulke misdade is nie en die polisie het vroue in die Noord-Kaap opnuut gemaan om ten alle tye hul veiligheid in gedagte te hou.
Terwyl die moorde van nege vroue, wie se liggame sedert Julie in die Ekurhuleni Metropolitaanse Munisipaliteit aan die Oos-Rand in Gauteng gevind is en ondersoekers nog bepaal of dit verband met mekaar hou, word die moord van ‘n 27-jarige vrou in die verafgeleë Onseepkans in die Noord-Kaap ondersoek. Haar liggaam is in die vroeë oggendure van 29 Augustus in dié skynbaar vreedsame nedersetting gevind.
LEES OOK: Woman’s body found in Boksburg brings Ekurhuleni death toll to nine
Van die Noord-Kaapse geweld- en seksuele misdrywe wat teen vroue gepleeg is, en wat onlangs in die provinsie in howe voorgekom het, is:
- Die 31-jarige Shaderick Seane is op 28 Augustus in die Kimberley Hooggeregshof tot lewenslange tronkstrafvir die moord op ‘n 28-jarige vrou by ‘n huis in Soul City, Galeshewe, gevonnis. Sy is aangerand en verwurg.
- Die 38-jarige Jan Loekie Human van Augrabies is op 7 September in die Upington Streekhof tot 20 jaar tronkstraf vir die moord op die 34-jarige Tasha Smit gevonnis. Hulle het saam gedrink, in ‘n argument betrokke geraak, waarna hy haar met ‘n mes gesteek het. Sy het aan haar wonde beswyk.
- ‘n 22-jarige man van Vosburg is op 28 Augustus in die Carnarvon-streekhof tot 20 jaar tronkstraf gevonnis ná die verkragting van sy 42-jarige ma.
- ‘n 50-jarige man van Jan Kempdorp is in September in die Kimberley Streekhof tot 25 jaar tronkstraf gevonnis vir die verkragting van ‘n vyfjarige meisie.
- ‘n 38-jarige man van Batlharos by Kuruman is op 7 Augustus in die Mothibistad Streekhof tot 15 jaar tronkstraf gevonnis vir die verkragting van ‘n 17-jarige meisie. Hy het haar voor haar jonger sibbe verkrag.
- ‘n 30-jarige man van Jan Kempdorp is op 3 September in die Warrenton Streekhof tot agt jaar tronkstraf gevonnis vir die aanranding van sy 33-jarige meisie. Hy het haar met ‘n panga aangerand.
- ‘n 26-jarige man van Pella is op 7 September in die Pofadder Streekhof tot vyf jaar tronkstraf gevonnis vir seksuele aanranding van ‘n 17-jarige meisie.
- Nazeed China Pienaar van Pella is op 9 September in die Pofadder Streekhof tot tien jaar tronkstraf gevonnis vir verkragting van ‘n 46-jarige vrou.
- ‘n 53-jarige man van Kathu is op 5 September in die Kathu Streekhof tot 15 jaar tronkstraf gevonnis vir poging tot moord op sy voormalige meisie.
- ‘n 37-jarige man van Strydenburg is op 3 September in die Hopetown Streekhof tot 15 jaar tronkstraf gevonnis vir die verkragting van ‘n 11-jarige meisie.
- ‘n 37-jarige man van Hopetown is op 3 September in die Hopetown Streekhof tot vyf jaar tronkstraf gevonnis vir aanranding van sy 56-jarige vrou.
- ‘n 27-jarige man van Fraserburg is in September in die Fraserburg Streekhof tot 18 jaar tronkstraf vir poging tot moord op sy voormalige lewensmaat gevonnis. Hy het haar met bakstene gegooi wat ernstige en lewensbedreigende beserings veroorsaak het.
- Die 40-jarige Hendrik “Platkop” Blou is in die Fraserburg Streekhof lewenslank tronk toe gestuur vir poging tot moord en aanranding op ‘n 24-jarige vrou wat hul verhouding beëindig het. Hy het haar telkemale met ‘n mes in haar rug, gesig en oë gesteek waarna sy die sig in haar een oog verloor het.
- ‘n 18-jarige man van die Loxton-omgewing is die week tot 12 jaar tronkstraf gevonnis vir die verkragting van ‘n 39-jarige vrou. Hy het haar eers met sy fiets omgery, en in die gesig geslaan en geskop voordat hy haar twee keer verkrag het.
- ‘n 36-jarige man van Kakamas is op 15 September tot 18 jaar tronkstraf gevonnis vir poging tot moord op sy voormalige 23-jarige meisie. Hy het haar onder meer telkens met ‘n tuingraaf oor die kop geslaan wat tot ernstige skedelfrakture gelei het.
- ‘n 26-jarige man van Colesberg is die week tot 20 jaar tronkstraf gevonnis vir verkragting, aanranding met die doel om ernstig te beseer, en ontvoering van ‘n 18-jarige vrou.
- ‘n 31-jarige man van Griekwastad is tot 12 maande tronkstraf gevonnis vir die aanranding van sy 55-jarige ma.
As vermis aangemeld
Op 16 September is die 16-jarige Realebogile Gaebee by die polisie in Mothibistad deur haar ma as vermis aangemeld. Sy is laas op 4 September gesien toe sy saam met haar broer in ‘n taxi skool toe gegaan het. Sy het glo by die Astron-vulstasie afgeklim, en nie by die skool nie. Enigeen wat weet waar sy haar bevind, kan vir adjudant-offisier Moholeng by 082 416 1095 bel.


Die 43-jarige Itshenkeng Georginah Morokonyane van Kagisho is op 2 September deur haar ma as vermis aangemeld. Sy het glo in Julie 2025 die huis saam met ‘n vriendin, ene Maureen, verlaat. Sy het gesê dat hulle op pad is na ‘n casino in Bloemfontein. In Februarie vanjaar het sy haar ma gekontak en gesê dat sy teen Maart huis toe sal gaan. Tydens die oproep het sy aan haar ma gesê dat sy nie ‘n selfoon het nie, maar een van ‘n sekuriteitswag by die OR Tambo Internasionale Lughawe geleen het. Sedertdien het sy nog nie meer kontak gemaak nie. Enige persoon wat weet waar sy haar bevind kan die ondersoekbeampte speursersant Dineo Motseothata by 082 469 0236 bel.
Doen só vir jou eie veiligheid
Teen hierdie agtergrond doen die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) in die Noord-Kaap ‘n beroep op vroue oor die provinsie heen om waaksaam te bly en uiters versigtig te wees om hul persoonlike veiligheid en welstand ten alle tye te beskerm. Kolonel Cherelle Ehlers, polisiewoordvoerder, sê die toepassing van persoonlike veiligheidsmaatreëls kan lewens red.
- ten alle tye bewus van die potensiële geleenthede vir misdaad te wees;
- vermy dit om alleen te loop en wees versigtig wanneer vreemdelinge jou nader;
- wees oplettend en let op na onbekende of verdagte voertuie en persone in jou omgewing;
- stap altyd in goed verligte en besige strate en waar moontlik, in groepe;
- wanneer jy ‘n voertuig bestuur, bly op hoofpaaie en vermy afgeleë roetes;
- lig altyd iemand wat jy vertrou in oor waarheen jy gaan en wanneer jy verwag om terug te keer;
- vertrou jou instink en verlaat situasies waarin jy onveilig voel, dadelik;
- sluit jou voertuig se deure onmiddellik nadat jy ingeklim het;
- as jy vermoed dat jy agtervolg word terwyl jy bestuur, ry na die naaste polisiekantoor of ‘n ander veilige, besige plek in plaas daarvan om direk huis toe te ry;
- deel jou “live location” of reisplan met iemand wat jy vertrou, wanneer jy reis of uitgaan; en
- vermy dit om in die openbaar te stap terwyl jy jou oorfone teen ‘n hoë volume gebruik, aangesien dit jou bewustheid van jou omgewing beperk.
Meld só persoon as vermis aan
Ehlers sê ondersoeke na vermiste persone bly ‘n saak van voorkeur vir die SAPD, en die publiek word daaraan herinner dat geen wagtydperk bestaan voordat ‘n persoon as vermis aangemeld word nie. Vinnige aanmelding en onmiddellike optrede kan deurslaggewend wees om die veilige terugkeer van ‘n vermiste persoon te verseker.
- meld die vermiste persoon onmiddellik by die naaste polisiekantoor aan;
- verskaf, indien moontlik, ‘n onlangse foto van die vermiste persoon;
- verskaf besonderhede oor waar die persoon laas gesien is, asook ‘n breedvoerige beskrywing van die klere wat die persoon laas aangehad het;
- voltooi en onderteken ‘n SAPS 55(A)-vorm. Dit help die SAPD om die verslag oor die vermiste persoon te verifieer en verleen magtiging vir die verspreiding van die vermiste persoon se foto;
- verkry die ondersoekbeampte se kontakbesonderhede en verskaf enige bykomende inligting wat die ondersoek kan help aan die beampte; en
- stel die ondersoekbeampte onmiddellik in kennis indien die vermiste persoon opgespoor word of vrywillig huis toe keer.
Die SAPD doen ‘n beroep op lede van die gemeenskap om waaksaam te bly, redelike voorsorgmaatreëls te tref en enige verdagte aktiwiteite of persone onverwyld by die polisie aan te meld. “Vertrou jou instink. Bly waaksaam. Bly veilig,” sê Ehlers.






You must be logged in to post a comment.