Die laaste beseerde personeellid van die Laerskool Kathu in die Noord-Kaap, wat ernstige beserings opgedoen het nadat dié skool se bus teen ‘n vragmotor gebots het, is ná 22 dae uit die hospitaal ontslaan.
Tiaan Whitehorn (31) is Sondag 5 Julie uit die Mediclinic Bloemfontein ontslaan. Op ‘n Facebook-plasing skryf sy vrou, Chrizaan: “Na 22 dae… 22 dae van vrees, hoop, gebede, trane, klein oorwinnings en oneindige dankbaarheid, stap ons uiteindelik saam by daardie hospitaaldeure uit. Ons gaan nie sommer net weg van ’n hospitaal af nie. Ons stap weg van die moeilikste hoofstuk wat ons saam moes deurmaak.”

Whitehorn was een van verskeie onderwysers en afrigters wat beseer is toe die skoolbus waarin hulle op Saterdag 13 Junie omstreeks 07:20 tussen Kathu en Kuruman vir ‘n sportgeleentheid onderweg was, agter in ‘n vermoedelik stilstaande vragmotor ingery het. Volgens die skool was 44 leerders in die bus. Hoewel sommige van die kinders geringe beserings opgedoen het, is almal deur mediese personeel ondersoek en op die toneel behandel sonder dat enigeen na ‘n hospitaal gebring moes word.
LEES OOK: Meegevoel met Laerskool Kathu wyd betuig; oorsaak van botsing nog ondersoek
Die beseerde onderwysers en afrigters is na die Lenmed-hospitaal in Kathu vervoer. Van die ernstig beseerdes is later per lugambulans na hospitale in Bloemfontein en Kimberley vir verdere behandeling oorgeplaas.
Hulle is Whitehorn, die graad 6E1-onderwyser wie ernstige hoof- en gesigsbeserings opgedoen het; Martin van Schalkwyk, adjunkhoof wat been- en kniebeserings opgedoen het; Sarah van Schalkwyk, departementshoof wat armbeserings opgedoen het; en Marizel Els, netbalafrigter, wie vir hoofbeserings in die hospitaal opgeneem is.
“Wanneer ons by daardie hospitaaldeure uitstap, begin daar ook ’n ander uitdaging. Ons gaan mense ontmoet wat vrae gaan vra, wat nuuskierig gaan wees, wat nie altyd sal verstaan wat hierdie 22 dae werklik van ons gevat het nie. Daar lê nog ‘n herstelpad voor en dae wat makliker en moeiliker gaan wees maar met Pappa Jesus by ons vat ons dit tree vir tree en dag vir dag.” Só skryf Chrizaan ook in haar Facebook-plasing.
Juffrou Ilze oorlede
Ilze Posthumus (30), ‘n graad 4-onderwyser aan dié skool, het aan haar beserings beswyk. Posthumus is deur die skool as ’n onlosmaaklike deel van die personeelgroep beskryf “wat ’n enorme bydrae tot die skool gelewer het. Sy sal vir altyd in ons harte voortleef en ons sal haar ontsettend baie mis.”
In die skool se kwartaalblad, met ‘n foto van Posthumus op die voorblad, word verskeie huldeblyke gelewer.
“Jy was ‘n mentor, ‘n inspirasie en ‘n steunpilaar vir elke speler wat die voorreg gehad het om deur jou afgerig te word. Rus sag. Jou fluitjie het stil geword, maar jou stem van aanmoediging sal vir altyd in ons harte weerklink,” is deel van die “netbalfamilie” se boodskap.
Die Graad 4-groep skryf: “Jy het rustigheid en kalmte na die groep gebring en was altyd bereid om die ekstra myl te loop. Jy het geweet hoe ‘n kind se hart werk en het elke leerder met liefde, geduld en begrip hanteer.”
Posthumus se roudiens het op 19 Junie by die NG kerk Harmonie in Kimberley plaasgevind, terwyl ‘n gedenkdiens vir haar op 25 Junie by die Laerskool Kathu gehou is. Sy laat haar man, Wihan; dogter, Clara; ouers, Leon en Lettie Botha; asook ander familie agter.

Skool sê dankie
Kort ná die ongeluk is beradingsdienste aan leerders en personeel beskikbaar gestel om die trauma van die voorval te help hanteer.
In ‘n plasing wat Sondag op die Facebook-blad van die Laerskool Kathu verskyn het, is geskryf: “Dit is dag 22 ná die tragiese busongeluk. Ons laaste beseerde personeellid is vanoggend uit die hospitaal ontslaan en vir die eerste keer voel dit of ons kan asemhaal…
“Die Pharos verklarende woordeboek beskryf ‘dankie’ as: ‘woord van dankbetuiging’. Net dit. Maar hoe kan ons net ‘dankie’ sê as ons harte verslae staan voor die liefde en genade wat ons ontvang het? Hier is ons poging.
“Laerskool Kathu wil graag ons opregte en hartlike dank uitspreek vir die oorweldigende golf van ondersteuning, hulp, liefde en gebede die afgelope drie weke. Dit het ons staande gehou in hierdie seer en uitdagende tyd.
“Ons is werklik geseënd om omring te wees deur ‘n wonderlike plaaslike gemeenskap in Kathu en omliggende dorpe, maar ook deur die groter skoolgemeenskap en ander ondersteuners oor die hele land heen.
“Ons harte loop oor van dankbaarheid vir onverdiende genade wat ons ontvang. Baie dankie aan elkeen wat tyd afgestaan het om boodskappe van bemoediging, blomme en kos te stuur. Baie dankie aan elkeen wat hulp aangebied het van berading, aflospersoneel tot finansiële ondersteuning. Baie dankie aan elkeen wat ons gedra het in gebed en steeds dra.
“Dit is vir ons kosbaar en spesiaal om te weet dat ons as skool nie hierdie moeilike pad alleen stap nie en dat soveel mense vanoor die hele land meelewing aan ons betoon.
“Baie dankie aan elkeen wat gebid het vir ons beseerde personeel en afrigters en steeds bid. Ons is dankbaar om te sê dat almal tuis aansterk. Ons harte loop oor van dankbaarheid ná 22 dae van genade. Alle eer aan die Here, mag Hy steeds elke tree by ons wees.”





You must be logged in to post a comment.