Meegevoel met Laerskool Kathu wyd betuig; oorsaak van botsing nog ondersoek

Huldeblyke stroom van oor die land heen in terwyl owerhede die oorsaak ondersoek van die noodlottige botsing waarin die bus van die Laerskool Kathu was.
Huldeblyke stroom van oor die land heen in terwyl owerhede die oorsaak ondersoek van die noodlottige botsing waarin die bus van die Laerskool Kathu was. FOTO: Verskaf

Meegevoel met Laerskool Kathu wyd betuig; oorsaak van botsing nog ondersoek

Huldeblyke stroom van oor die land heen in terwyl owerhede die oorsaak ondersoek van die noodlottige botsing waarin die bus van die Laerskool Kathu was.
Huldeblyke stroom van oor die land heen in terwyl owerhede die oorsaak ondersoek van die noodlottige botsing waarin die bus van die Laerskool Kathu was. FOTO: Verskaf

KATHU – Huldeblyke stroom van oor die land heen in ná die busongeluk waarin ’n geliefde juffrou van die Laerskool Kathu Saterdagoggend dood is. Verskeie van haar kollegas is ernstig beseer.

Die ongeluk het Saterdag 13 Junie omstreeks 07:20 op die N14, sowat 10 km tot 12 km buite Kuruman, plaasgevind toe die skoolbus personeel en leerders van die Laerskool Kathu na die eindronde van die Van Druten-liga by Laerskool Seodin vervoer het.

Volgens inligting wat aan Nova News beskikbaar gestel is, het die bus teen ‘n vermoedelik stilstaande vragmotor gebots. Die presiese omstandighede wat tot die botsing gelei het, word deur die owerhede ondersoek.

Meegevoel betuig

Die ongeluk het skokgolwe deur die Noord-Kaap en die breër onderwys- en sportgemeenskap gestuur. Van skole en sportorganisasies, tot gemeenskappe oor die land heen, het boodskappe van meegevoel en ondersteuning laat opklink vir die gemeenskap van Kathu. 

Die Suzuki Griekwas het in ‘n verklaring gesê die rugby-organisasie is diep geskok oor die hartseergebeure wat afgespeel het terwyl die groep op pad was na die Van Druten-liga se rugby- en netbaleindronde. 

“Ons harte gaan uit na die familie, vriende en skoolgemeenskap van die onderwyseres wat haar lewe verloor het,” het die organisasie gesê.

Die Griekwas het ook sterkte en gebede aan die beseerdes, die leerders en almal wat deur die tragedie geraak is, oorgedra. 

Skool dankbaar vir kosbare ondersteuning

In ‘n verklaring wat Saterdagmiddag uitgereik is, het die Laerskool Kathu bevestig dat een van die skool se onderwysers in die ongeluk oorlede is. Haar identiteit is tot dusver nie bekend gemaak nie om haar familie die geleentheid te gee om die nuus privaat te verwerk.

Beradingsdienste word intussen aan leerders en personeel beskikbaar gestel om die trauma van die voorval te help hanteer. 

Volgens die skool was 44 leerders op die bus ten tyde van die ongeluk. Hoewel sommige van die kinders geringe beserings opgedoen het, is almal deur mediese personeel ondersoek en op die toneel behandel sonder dat enigeen na die hospitaal gebring moes word.

Ses personeellede en afrigters is egter in die ongeluk beseer. Nooddienste het vinnig op die toneel aangekom en die beseerdes na die Lenmed-hospitaal in Kathu vervoer. Van die ernstig beseerdes is later per lugambulans na hospitale in Bloemfontein en Kimberley oorgeplaas vir verdere behandeling. 

Die Laerskool Kathu en sy skoolbeheerliggaam het opregte dank uitgespreek teenoor almal wat hulp onmiddellik hulp ná die ongeluk verleen het. Spesiale waardering is uitgespreek teenoor Curro Kathu, wat gehelp het om leerders vanaf die ongelukstoneel te vervoer, asook teenoor die Laerskool Seodin, nooddienswerkers, vrywilligers en gemeenskapslede wat ondersteuning gebied het.

Herstel van beseerdes, steun nou die fokus

Potchefstroom Gimnasium was onder die talle skole landswyd wat medelye betuig het. In ‘n boodskap van simpatie het die skool gesê die Kathu-skoolgemeenskap bly in hul gebede en dat hulle saam treur oor die verlies van ‘n toegewyde opvoeder. 

Terwyl ondersoekers besig is om die oorsaak van die ongeluk vas te stel, is dit vir die skool belangrik om op die herstel van die beseerdes en die ondersteuning aan die families, kollegas en leerders wat geraak is te fokus.  

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article