KURUMAN – Drie lede van ‘n skoolbeheerliggaam (SBL) van ‘n laerskool in die Noord-Kaap is in hegtenis geneem ná hulle meer as ‘n halfmiljoen rand uit die skool se rekening vir vermoedelik eie gebruik onttrek het.
Dié drie, Patrick Kgomotso (34), Lesedi Morapadi (37) en Itumeleng Tsinyane (52), is op Dinsdag 24 Junie deur lede van die Valke se handelsmisdaadeenheid in hegtenis geneem. Dit is deel van die Valke se pogings om diefstal en geldwassery wat onder lede van SBL’e voorkom, aan bande te lê.
Al drie dié mans is lede van die SBL van die Laerskool AB Koloane in Kagung buite Kuruman. Hulle het ook tekenregte op die skool se bankrekening. Hulle het na bewering vanaf Januarie 2020 tot April 2021 ‘n bestedingsveldtog gevoer waartydens hulle verskeie OTM-onttrekkings uit die skool se rekening oor naweke en gedurende skoolvakansies gemaak het, sê lt.kol. Tebogo Thebe, woordvoerder van die Valke.
Die beskuldigdes beweer dat hulle die geld gebruik het om vir goedere en dienste wat tot die skool betrekking het, te betaal. Hulle kon egter nie die stawende vereiste dokumente of fakture verskaf nie. Deur dié onttrekkings het die skool verliese van R504 441,63 gely.
Hulle het reeds voor die Mothibistad-landdroshof verskyn, en die saak is tot 30 Junie vir ‘n formele borgtogaansoek uitgestel.



