Charné Kemp het met ds. Keydy O’Callaghan, uitvoerende direkteur van Caritas Gemeenskapsfokus, gesels.
Wie is Caritas?
Caritas Gemeenskapsfokus streef na die heling van mense binne hul gemeenskappe. Dit word gedoen deur liefdevolle diens, geïnspireer deur die voorbeeld van Jesus Christus. Ons missie is om gemeenskappe te help herstel, gesinne te bemagtig, kinders en ouer persone te beskerm en gespesialiseerde terapie.

Hoe het dit ontstaan?
Caritas en sy kinderhuis begin by ‘n kerkraadsvergadering van die NG kerk Kimberley op 5 Mei 1890. De Beers skenk ‘n stuk grond, in die huidige Lawsonstraat, met ‘n huisie as tehuis vir behoeftige kinders. Op 22 April 1891 is “Newton Tehuis – Newton Home” ingewy en vyf kindertjies ingeneem. Op 2 Augustus 1949 word die naam na die Kestell-kinderhuis verander, ter ere van dr. en mev. Kestell wat waardevolle dienste gelewer het.
Verdere uitbreidings het plaasgevind en in 1961 is ‘n kleuterafdeling ingewy, in 1964 ‘n afdeling vir meisies en in 1970 ‘n afdeling vir seuns. Deur die jare is verbeterings aangebring. Dieselfde terrein word deur onder meer Caritas, Sinodale Kantoor van die NG kerk in Noord-Kaapland, arbeidsterapeute, en ‘n sielkundige gebruik.
Wat doen Caritas?
Die Caritas Kinder- en jeugsorgsentrum in Barkly-Wes versorg sedert 1952 kinders. Daar is nou 85 kinders. Hulle kom uit ontwrigte gesinne en het in sommige gevalle geen ander heenkome het nie. Hier word holistiese residensiële sorg aangebied, drie gebalanseerde maaltye per dag, skoolklere, sakgeld, en veilige verblyf. Emosionele ondersteuning deur individuele en groepterapie word aangebied, en Caritas spesialiseer in ontwikkeling van lewensvaardighede.
Kinders vyf tot tien jaar neem aan die Wysneusie-lewensvaardigheidsprogram deel, terwyl kinders 11 en 15 jaar die Ready for Life-program doen. Kinders van 16 jaar af word vir die volwasse wêreld met die Independent Living Plan voorberei.
Caritas Gemeenskapsfokus Vryburg het die afgelope jaar armoedeverligting aan 9 938 mense gebied en statutêre dienste en terapeutiese hulp aan 11 622 mense. Die kantoor het 119 langtermyn- en 217 korttermyn-gevalle hanteer, en 252 individuele gevalle is bedien. Altesaam 65 gesinne is gehelp met pleegsorg, en 12 nuwe kinders is in pleegsorg geplaas. Ons het ook 1 012 onderhoude gevoer, en 61 terapeutiese sessies gehou met kinders wat getraumatiseer is.
Caritas Gemeenskapsfokus Kimberley fokus vir die afgelope 80 jaar op kinderbeskerming en gesinshereniging. Ons het vanjaar reeds meer as 123 statutêre gevalle hanteer, wat insluit hofverrigtinge vir kinders wat mishandeling ervaar het. Ons span het meer as 65 gesinskonferensies gehou om gesinne te help om bymekaar te kom en saam te werk om hul kinders te beskerm. Ons het in samewerking met skole anti-boelieprogramme en voorkomingsveldtogte geloods.
By die terapiesentrum is dienste gebied om die welstand van kinders en gesinne te verbeter. In die afgelope jaar is 42 kinders emosioneel geassesseer, 130 deur spelterapie ondersteun, en 28 volwasse terapie-sessies aangebied. Ons terapeute werk nou saam met gesinne om diepgaande genesing en herstel te bring.
Ons vroeë kinderontwikkelings(VKO)-programme bedien 509 kinders in 12 sentrums. Die sentrums is versprei in afgeleë dorpe, en personeel reis ver om hulle te bereik. In afgeleë gebiede soos Strydenburg en Augrabies maak ons ‘n groot verskil in kinders se opvoeding en voorbereiding vir skool. Ons het 33 praktisyns en 13 kokke wat daagliks kinders versorg.
Caritas het samewerkingsooreenkomste met vyf tuistes vir ouer persone in die Noord-Kaap en Noordwes.
Met die hospitaalbesoekdiens besoek twee vrywilligers weekliks pasiënte in verskeie hospitale – sowat 1 023 besoeke is die afgelope jaar gedoen.
Caritas het ‘n nuwe eenheid vir opleiding en professionele ontwikkeling wat fokus op die verbetering van personeelvaardighede. Onlangs het 12 kinderversorgers opleiding ontvang om kinders te hanteer wat geseksualiseerde gedrag openbaar.
Caritas se eiendomme speel ‘n sleutelrol in ons finansiële stabiliteit. Die Sinodale Sentrum wat konferensiegeriewe en oornagkamers insluit, verkry ook inkomste. Die bemarkingspan werk onvermoeid om die profiel van Caritas te verhoog.

Hoe word deursigtigheid en verantwoordbaarheid van fondse verseker?
Deur ‘n effektiewe bestuursplan word alle wetgewing en beleid nagekom wat op ‘n welsynsorganisasie van toepassing is. Geldsake word jaarliks geoudit en die jaar- en ouditverslag op ‘n ope jaarvergadering bespreek.
Wat is van die uitdagings?
Die toenemende morele verval van die samelewing wat tot al meer maatskaplike probleme lei. Met die druk op die ekonomie word geldinsameling en die verkryging van skenkings ‘n groter uitdaging.
Deel ‘n suksesverhaal
Op ‘n stadium is ‘n pasgebore baba in die Oppenheimer-tuin in Kimberley gevind – koud, nat en weggegooi. Wonderlike pleegouers is vir haar gevind en vandag is sy ‘n gelukkige en gesonde kleuter binne ‘n geborge gesin waar sy geliefd en veilig is.
Wat is die planne vir groei?
Die VKO lê ons baie na aan die hart. ‘n Holistiese bemagtiging van kinders op kognitiewe, fisieke, sosiale en emosionele vlak moet geskied voor hulle vyf jaar oud word. Navorsing wys dit is die beste manier om armoede te voorkom. Wanneer ‘n kleuter se grondslag op hierdie vlakke gevestig is, is die kanse goed dat hul goed sal vaar in hul skoolloopbaan en sodoende vir hul ‘n beter lewe kan bou.
- Kontak Caritas by 087 150 5041 of 053 842 0213.
You must be logged in to post a comment.