Wrakstukke van 'n noodlottige ongeluk is op 8 Julie by die toneel op die R311 aangetref.
Wrakstukke van ‘n noodlottige ongeluk is op 8 Julie by die toneel op die R311 aangetref.

‘n Saak van strafbare manslag en diefstal word deur die plaaslike polisie ondersoek ná ‘n noodlottige botsing Dinsdagaand (8 Julie) om 19:20 op die R311 tussen Moorreesburg en Riebeek-Wes.

‘n Vrou (33) is in die botsing tussen ‘n vragmotor en motorvoertuig dood. Volgens kapt. Tania Helfrich, ‘n polisiewoordvoerder vir die Weskus-distrikskantoor, het die noodlottige botsing sowat 15 km buite Moorreesburg plaasgevind.

Die vroulike slagoffer, wat op die toneel as Ntombothando Sonia Mohamed identifiseer is, was ‘n passasier van die Nissan Juke wat teen die vragmotor gebots het. Die bestuurder van die voertuig se bloedalkoholvlak is op die toneel getoets nadat verskeie bottels drank binne die voertuig gevind is. Die bestuurder is vir dronkbestuur in hegtenis geneem.

VORIGE SAAK

Volgens die polisie, was verkeersbeamptes was reeds voor die ongeluk op die toneel besig om die verkeer op die pad te reguleer nadat ‘n vragmotor onklaar geraak het. Die bestuurder van die Nissan het glo die verkeersbeamptes se instruksies by die stop-en-ry-punt verontagsaam.

Luidens ‘n verklaring deur nooddienspersoneel het die beamptes op daardie tydstip ryvoorang aan ‘n ander swaarmotorvoertuig gegee. Die betrokke Nissan is deur verkeersbeamptes aan diens gewys om te stop aangesien die een baan vir verkeer gesluit was. Die bestuurder van die Nissan LDV het die beamptes se bevel verontagsaam en na bewering teen ‘n geweldige spoed verbygejaag.

Die Nissan LDV was gisteraand (8 Julie) in ‘n botsing reg van voor op die R311 tussen Moorreesburg en Riebeek-Wes betrokke. ‘n 33-Jarige passasier het noodlottige beserings opgedoen.

Die beamptes was genoop om uit die pad te spring. Die Nissan het kort daarna teen die aankomende vragmotor gebots. Die ander insittendes in die voertuig, naamlik twee mans en ‘n vrou, is na die Swartland-hospitaal geneem nadat hulle beserings opgedoen het.

‘n Aantal pare nuwe skoene en stelle nuwe klere is in hul verpakking binne die voertuig aangtref. Die oorledene het volgens die polisie ‘n uitstaande saak teen haar.

“Mohamed is op 16 Oktober 2024 in Langstraat in Moorreesburg aangekeer nadat destyds ook drank en nuwe klere ter waarde van meer as R8 000 in haar en nog twee insittendes se besit gevind is. Geen bewyse kon verskaf word dat hulle wel die klere gekoop het nie,” voeg Helfrich by.

IN DIE HOF

Die 43-jarige bestuurder sal na verwagting komende Vrydag (11 Julie) in die plaaslike landdroshof in Moorreesburg vir die besit van vermoedelik gesteelde items verskyn. Hy kon ook geen bewyse na vore bring dat hy wel die produkte gekoop het nie.

Die verdagte is, volgens die polisie, voorheen al ‘n paar keer vir die besit van dwelms (onder meer in Ceres en Worcester) aangekeer en is in 2005 aan inbraak by ‘n sakeonderneming skuldig bevind.

Gerugte dat die insittendes aan ‘n sindikaat verbind kan word, kan nie in hierdie stadium deur die polisie bevestig word nie.

Die R311 was tydelik vanaf die N7-snelweg se kant af gesluit. Die verkeersbeamptes op die toneel is weens skok en skraapwonde behandel.

‘n Voertuig het om 19:20 gisteraand (8 Julie) teen die vragmotor tussen Moorreesburg en Riebeek-Wes gebots.

You need to be Logged In to leave a comment.