Hannetjie Koen van Bloemhof
Hannetjie Koen (89) van Bloemhof. FOTO: Facebook

Man verskyn in hof ná moord op 89-jarige vrou van Bloemhof


BLOEMHOF – Die 51-jarige verdagte wat ná die moord op die 89-jarige Hannetjie Koen van Bloemhof in hegtenis geneem is, sal weer op 4 September in die landdroshof in dié Noordwes-dorp verskyn.

Thabang Jan Monouna sal dan vir borgtog aansoek doen. Monouna is kort ná die voorval op Vrydag 21 Augustus in hegtenis geneem. Hy het reeds op Maandag 24 Augustus sy eerste verskyning in die Bloemhof-landdroshof gemaak. Kaptein Majang Skalkie, polisiewoordvoerder, sê ‘n saak van moord word ondersoek.

Die bejaarde Koen is Vrydag in haar huis in Bloemhof aangeval en het later in ‘n hospitaal in Vryburg aan haar beserings beswyk. Volgens inligting wat ontvang is, het haar seun Boeta Vrydag na haar huis gegaan om te sien hoe dit met haar gaan. By haar huis het hy ‘n onbekende man in die kombuis aangetref.

Die bejaarde Hannetjie Koen is in haar huis aangeval, en is kort daarna oorlede.
Die bejaarde Hannetjie Koen is in haar huis aangeval, en is kort daarna oorlede. FOTO: Facebook

Dié het gesê dat hy vir Koen werk en het ook gesê dat Koen by die bure is. Die bure het egter gesê dat sy nie daar is nie. Met sy terugkeer na sy ma se huis het die seun opgemerk dat die onbekende man nie meer daar is nie.

Die seun het sy soektog na sy ma voortgesit en haar in ‘n buitekamer gevind waar sy in ‘n plas bloed gelê het. Sy het verskeie ernstige beserings gehad. Haar kakebeen was onder meer gebreek, haar gesig vol snye, en haar bril, gehoorapparaat en kunstande was ook stukkend en het langs haar op die vloer gelê.

‘n Ambulans is onmiddellik ontbied, en Koen is na ‘n plaaslike mediese fasiliteit vir behandeling afgevoer. Sy is later na ‘n hospitaal in Vryburg oorgeplaas waar sy aan haar beserings beswyk het.

Soektog lei na verdagte

Intussen het buurtwaglede en ‘n groep inwoners saam na die verdagte begin soek en ‘n hommeltuig is ook ingespan. Albert Nel, VF Plus-raadslid en gemeenskapsleier, sê hy het ‘n man met ‘n sak vol hout op sy kop gesien en net geweet hy moet hom voorkeer. Terwyl Nel met dié onbekende man gepraat het, het hy ‘n video van die gesprek opgeneem wat op die gemeenskap se WhatsApp-groep geplaas is.

Met dié plasing het die oorledene se seun die man herken as die een wat hy in sy ma se kombuis gesien het. Die onbekende man is kort daarna in die dorp agter ‘n dokter se spreekkamer aangekeer. Bloedkolle was glo op sy broek sigbaar.

Verdere inligting wat uit die gemeenskap gekom het, het aangedui dat dié man in die begraafplaas as ‘n hawelose bly. Die oorledene se huis is naby die begraafplaas.

Gemeenskap oorhandig memorandum

Gemeenskapslede het vanoggend, Woensdag 26 Augustus, ‘n memorandum aan die bevelvoerder van die polisiekantoor in Bloemhof en die burgemeester van die Lekwa-Teemane plaaslike munisipaliteit oorhandig waarin kommer oor die voorkoms van misdaad in die dorp uitgespreek is.

Nel sê voor die oorhandiging van die memorandum het enkele inwoners van hul persoonlike ervaring van misdaad in Bloemhof vertel, en hoe oorlewendes met die nagevolge en trauma van so ‘n ervaring worstel.

Inwoners is versoek om seker te maak dat elke huishouding ‘n noodplan vir ‘n noodsituasie het.

“Kry ‘n ondersteuningsbasis op speed-dial. Sorg dat mense vir jou uitkyk,” stel Nel voor. “Jy het jou buurman of iemand nodig wat van jou bewegings en roetine bewus is.”

Die kwessie van hawelose persone wat toenemend in en om die dorp blyplekke oprig – ook in die begraafplaas en strukture wat in onbruik is – is ook aangespreek en in die memorandum word aangedring dat wetstoepassers teen sulke persone optree.

Nel vertel dat voorheen ondervind is dat sulke persone, asook straatkinders, baie goeie waarnemers is en wel tot misdaad toetree wanneer die geleentheid daar is.

Met die inhegtenisneming van die verdagte het die provinsiale polisiekommissaris van Noordwes, luitenant-generaal Arthur Adams, polisielede vir hul vinnige reaksie geprys. Adams het ook beklemtoon dat die samewerking van die gemeenskap grootliks bydra tot die voorkoming en oplossing van misdaad.

Roudiens op Vrydag

Nel sê die oorledene was ‘n staatmaker in die gemeenskap en het vir dekades in Bloemhof gewoon.

Op Facebook-plasings word sy as iemand met die mooiste hart beskryf wat niemand skade sou aandoen nie, en dat sy baie geliefd onder almal in Bloemhof was. ‘n Plasing verwys ook na die “lekkerste, vars, tuisgebakte beskuit” waaraan rondom haar kombuistafel gesmul is.

Sy word deur haar seun Boeta, dogter Ria Mornet en vyf kleinkinders oorleef.

  • Haar roudiens vind Vrydag 28 Augustus om 11:00 vanuit die NG kerk Bloemhof plaas.

LEES OOK: Police captain killed in Knysna shootout during investigation into political murders

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article