CALVINIA – Die 55-jarige Charles Matthys van Calvinia in die Noord-Kaap is lewenslange tronkstraf opgelê vir die moord op sy vrou, Annamary Matthys (40). Dit volg nadat Matthys sy vrou op 15 April 2022 by hul huis doodgeslaan en haar in ‘n vlak graf agter ‘n skool in dié dorp begrawe het.
‘n Gemeenskapslid het die polisie oor die voorval ingelig en die beskuldigde is met bloedbevlekte klere gevind. Hy is in hegtenis geneem en ‘n polisieondersoek het gevolg, sê lt.kol. Sergio Kock, polisiewoordvoerder.
Matthys is op Vrydag 27 Junie in die hooggeregshof in Calvinia tot lewenslange gevangenisstraf vir die moord gevonnis, een jaar vir gewone aanranding, en ses maande vir regsverydeling. Hy is ook onbevoeg verklaar om ‘n vuurwapen te besit.
Die provinsiale kommissaris van die Noord-Kaap, lt.genl. Koliswa Otola, het die lewenslange vonnis verwelkom. Otola het ook vir speursers Jaco Swartz van die Calvinia-eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele oortredings vir sy noukeurige ondersoek geprys, en waardering uitgespreek vir die samewerking van al die rolspelers.
Geregtigheid vir slagoffer van aanranding
In ‘n onverwante misdaadvoorval van geslagsgebaseerde geweld is ‘n Noord-Kaapse man 15 jaar tronkstraf opgelê vir poging tot moord op sy voormalige meisie.
Dit volg nadat Diane Justice Masike (34) op 10 November 2024 sy 32-jarige voormalige meisie geslaan, geskop en met ‘n bierbottel op die voorkop geslaan het. Hy is kort hierna in hegtenis geneem, en nadat hy op borgtog vrygelaat is, het hy dieselfde slagoffer weer aangerand, sê Kock.
Tydens dié voorval op 3 Februarie het Masike sy slagoffer met ‘n yster oor die kop geslaan. Sy borgtog is teruggetrek en hy het tot sy vonnisoplegging in aanhouding gebly.
Hy is verlede week, op 25 Junie, in die Kathu-streekshof tot 15 jaar gevangenisstraf gevonnis. Vyf jaar van die vonnis is vir vyf jaar opgeskort op die voorwaarde dat hy hom nie weer aan dieselfde of soortgelyke misdade skuldig maak nie.
Otola het vir sers. Boikanyo Pilane en konst. Refilwe Rapelang van die Kathu-eenheid teen gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele oortredings vir hul goeie ondersoekwerk geprys.