BLOEMFONTEIN. Die polisieman wat in verband met aanklagte van ontvoering en afpersing van ‘n skolier van die Martie du Plessis skool in die Bloemfonteinse landdroshof verskyn het, sê hy ken nie die kind of sy ouers nie.
Sers. Nzima Adoons (42) van die Mangaung-polisiekantoor, het vandag in die hof verskyn om vir borgtog aansoek te doen.
Tydens ondervraging het Adoons volgehou hy ken nie die kind of die ouers nie. Hy is die enigste van die verdagtes wat vandag in die hof verskyn het.
Die gr. 11-leerling, Kamogelo Baukudi, is Vrydag 22 dae nadat hy ontvoer is, in die vroeë oggendure veilig in Wepener opgespoor. Vyf mans tussen die ouderdomme van 20 en 29 jaar is toe in Wepener in hegtenis geneem.

Drie van die verdagtes is in hegtenis geneem in ‘n huis in die Kanana-township by Wepener. Die ander twee was met die slagoffer op pad tussen die Kwetla-township en Wepener toe die polisie op hulle toegeslaan het.
Adoons, wat in Dewetsdorp woon en lid van die Provinsiale teenbende-eenheid is, het in die hof gesê hy ken nie die seun of die familie nie en dra geen kennis van die losprys van R7 miljoen wat van die familie geëis is nie.
Hy is Saterdag 7 Junie in hegtenis geneem, twee dae nadat Kamogele op 5 Junie in Vereenigingrylaan ontvoer is.

Tydens die ondervraging in die hof het Adoons gesê dat hy ná sy inhegtenisneming in ‘n uitkenningsparade Sondag by die polisie was, maar dat niemand hom uitgewys het nie.
Die premier van die Vrystaat, Macqueen Letsoha-Mathae was ook vandag tydens die verrigtinge in die hof.
You must be logged in to post a comment.