Op laerskool kon ons nie die verskil tussen letterlik en figuurlik verstaan nie. Ons onderwyseres het verduidelik dat letterlik is soos ‘n letter wat jy sien. Letterlik.
Daar is mense wat dinge letterlik opneem. Iemand na aan ons is ook so ‘n mens. Jy moet jou vraag mooi verwoord, want jy kry presies die antwoord op die vraag wat jy gevra het.
‘n Paar jaar gelede stuur ek ‘n e-pos aan ‘n kliënt se administratiewe afdeling oor die betaling van sy Telkom-rekening. Ek sluit die kliënt by die e-pos in.
Hy reageer baie selde op e-posse, maar op hierdie dag kry ek ‘n e-pos van hom af terug.
“Wat is die Telkom-rekening?” vra hy.
Ek dink ‘n oomblik na oor sy vreemde vraag. Ek het egter al vreemder vrae vanaf kliënte gekry. Sonder enige versuim antwoord ek: “Dit is die rekening wat jy elke maand vanaf Telkom kry.”
Stilte.
Twee weke later staan ek in die kombuis en kosmaak. My man stap verby my.
“O toggie!” sê ek en lag. Hy frons. “Ek besef nou skielik – my kliënt wou seker weet hoeveel die Telkom-rekening is. Nie wat dit is nie.”
Net daar het ek besef dat ek ook iemand is wat dinge baie letterlik kan opneem. Te laat. Die skade is gedoen.
LEES OOK: POTPOURRI | ‘Ag, doen gou’ grief talle
Ek vertel myself dat dit tot ‘n onwillekeurige glimlag op my kliënt se gesig gelei het, so ek kan nie regtig dit as skade beskryf nie.
Geen haan het na hierdie e-posse gekraai nie. In volgende gesprekke met die kliënt is die woord Telkom nie eens genoem nie.
Dit is soms frustrerend om met mense te kommunikeer wat dinge baie letterlik opneem. Aan die ander kant is hulle juis diegene wat ‘n glimlag op jou gesig sit wanneer jy dit die minste verwag.



