Karin Muller
Karin Muller. FOTO: Verskaf

POTPOURRI | ‘Ag, doen gou’ grief talle


Daar is beroepe waarin mense goedere koop en verkoop. Dan is daar beroepe waarin mense tyd verkoop deur ‘n diens te lewer.

Prokureurs. Argitekte. Ingenieurs. Haarkappers. Rekenmeesters. Dokters.

Ja, kundigheid en ondervinding is betrokke, maar bowenal: Om ‘n diens te lewer neem tyd. Veral as dit ‘n professionele diens is.

Wanneer mense ‘n prokureursfirma besoek, is hulle deeglik bewus van die tyd wat die afspraak neem.

Dieselfde met ‘n doktersbesoek. Mense is bereid om vir hierdie tyd te betaal.

Om die een of ander rede sien mense dit nie met alle professionele dienslewering so nie.

Rekenmeesters kla oor die algemeen oor aannames dat hul tyd nie belangrik is nie. Dat hulle net gou hierdie moet doen of daardie moet kyk. Volgens baie kliënte is daar nie eintlik tyd of kennis of ondervinding betrokke nie.

Wanneer die belastingseisoen begin, raak baie mense desperaat.

Dit is te verstane. Die ekonomie druk al hoe swaarder.

Dit raak al hoe moeiliker om kos op die tafel en ‘n dak oor ons kop te hou.

As elke kliënt redeneer dat ‘n spesifieke taak baie vinnig namens hulle afgehandel kan word, en dus verwag dat dit gratis dienste is, hoe gaan die rekenmeester oorleef?

Sommige kliënte vergeet hoeveel tyd kommunikasie in beslag neem. Elke e-pos, telefoonoproep, asook selfoon- en stemboodskap, neem tyd.

Wanneer jy jouself in ‘n beroep bevind waarin jy tyd verkoop, loop die tyd soos water tussendeur jou vingers. In baie gevalle sonder vergoeding.

Nie net rekenmeesters worstel hiermee nie. Talle in ander beroepe kla hieroor.

Baie mense verstaan nie die konsep dat sekere beroepe tyd verkoop nie. En tyd is geld.

  • Lees nog rubrieke en meningstukke hier.
NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article