Dit was so naelskraap of Kakamas-rugbyklub het Saterdag 1 Augustus sy onoorwonne status in Upington prysgegee. Die besoekers van Kakamas het sy ZF Mgcawu-liga kragmeting op die Eilandveld met 33-31 gewen – hulle is vanjaar tot dusver die enigste onoorwonne span in die kompetisie. Met rustyd was die wenspan met 19-10 voor.
Upington Dorp was in die eerste helfte met die rug teen die muur want sy agttal het swaar in die vasteskrums geleef. In die tweede helfte het Dorp met ‘n plan vorendag gekom en sy voorhoede het duidelik die antwoord verskaf met ‘n stewiger vertoning in die skrums.

Kakamas kon hulle toe nie weer soos in die eerste helfte na willekeur rondstoot nie. Hier het die jong bul, Crynauw Day (slot) en die agsteman Desmond Louw (agsteman), met bal in hand uitmuntend gevaar.
Aan die besoekers se kant het hulle nommer ses-flank Koos de Wet ‘n barshou gespeel. Hy het Dorp by die afbreekpunte beproef, sy verdediging rotsvas en sy aanvalswerk ‘n lus om te aanskou. In die laaste tien minute van die wedstryd het Dorp se gevaarlike agterlyn Kakamas se verdedigingslinie aan flarde gehardloop en in die aanloop hiervan twee prag-drieë gedruk en skielik was die agterstand aan die einde ‘n skrale twee punte.
Wilco Visagie, Dorp se binnesenter, het met sy krag en vaart ‘n groot aandeel in die laaste twee drieë gehad. Kakamas, toe alreeds pootuit van al die gate toestop, was ‘n verligte span toe die eindfluitjie blaas.
- Kakamas se drieë is gedruk deur AJ Wiese, Koos de Wet, Pierre du Preez, Gustav Bester en Michael Fox. Connie de Jager het met vier doelskoppe geslaag.
- Vir die Upington-tuisspan het Kaylon Legodi, Nico van Rooi, Maxwell Smith en AJ Burger agter die doellyn gaan kuier. Wilco Visagie het vier drieë verdoel en met ‘n strafskop geslaag.
Sunwolves sit vir Upington United ore aan
In nog ‘n ZF Mgcawu-wedstryd Saterdag op die Eilandveld het Sunwolves vir Upington United met 38-0 verslaan. Dié span se ses drieë is gedruk deur TJ Majiedt (2), Aldivano Dick (2), Junior de Hark en Keegan McKenzie. Die losskakel Royston Isaaks het drie drieë verdoel.
Met Saterdag se kragmeting het Kakamas seker gemaak van ‘n halfeindstryd op sy tuisveld.
Defence Force Collegians (DFC), Sunwolves en Harlequins gaan sake in die uitklopronde uitspook.
LEES OOK: ZFM-spanne hou eindstryd in visier met elke kragmeting op rugbyveld





